Die VF Plus staan ferm saam met die inwoners van Vishoek, Bloubergstrand, Big Bay, Seepunt en Groenpunt in hul regmatige verontwaardiging teen die Stad Kaapstad se ondeurdagte planne om duisende laekoste-behuisingseenhede in gevestigde middelklasgebiede in te druk.
Terwyl die VF Plus die behoefte aan behuising erken, is die Stad se roekelose en eensydige benadering wat vervalle infrastruktuur, werkloosheid en omgewingsverval ignoreer, niks minder nie as ekonomiese sabotasie teen hardwerkende belastingbetalers wat hierdie gemeenskappe opgebou het.
Hierdie krisis spruit voort uit ‘n onbeheerde toestroming van mense na die Wes-Kaap.
Amptelike sensusdata toon ‘n netto migrasie-instroming van meer as 646 000 mense na die Wes-Kaap tussen 2011 en 2021, waarvan die meeste werkloos en haweloos is.
Dit oorweldig hulpbronne en vererger werkloosheid, haweloosheid en stedelike verval. Die VF Plus waarsku al lank dat hierdie onbeheerde migrasie – sonder werkskepping of integrasie – welvarende voorstede in drukkokers van armoede, verkeersopeenhopings en misdaad kan verander.
In Vishoek oorskry die Stad se voorstel vir 10 000 laekoste-eenhede op kosbare oop ruimtes alle logika. Paaie is reeds daagliks verstop, skole te min en die enkele klein hospitaal onvoldoende. Openbare vervoer is ‘n klug.
Sonder nywerhede, groot fabrieke of industriële landbou in die gebied, is daar geen werksgeleenthede vir nuwe inwoners nie.
Die toenemende, sigbare teenwoordigheid van hawelose en werklose mense is reeds ‘n humanitêre tragedie. Om duisende meer in te prop, sal dit tot breekpunt dryf terwyl eiendomswaardes skerp sal afneem.
Die groot verloorders sal bestaande huiseienaars wees wat die tariewe betaal en die ligte aanhou.
Die konsep-plaaslike ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (LSDF) vir Erf 1117 in Blouberg is ewe katastrofies: Laekoste-behuisingseenhede vir 25 000 mense in ‘n kernontruimingsone, ver van werkgeleenthede met geboue totaal buite skaal vir kusvoorstede.
Dit verontagsaam biodiversiteitwette, bedreig toerisme – die lewensaar van die Weskus-ekonomie – en sal ‘n ontruimingskrisis skep.
Die Stad se MyCiTi-busstelsel, waarvan 87% deur belastingbetalers gesubsidieer word terwyl dit slegs 4% van alle pendelaars bedien, sal nie hierdie krisis oplos nie. Oorvol paaie soos die R27 sal ‘n onrybare nagmerrie word en kuslyn-eiendomme se waarde sal in die slag bly.
Selfs in Seepunt en Groenpunt, waar die LSDF-proses op die tafel bly met onlangse goedkeurings vir gemengde gebruikontwikkelings op prima grond, voel openbare deelname soos ‘n doellose ritueel.
‘n Groen lig in November 2024 vir bekostigbare behuising in Groenpunt ignoreer dieselfde slaggate: gespanne dienste, geen ekonomiese ankers en ‘n trajek na voorstedelike agteruitgang wat wêreldwyd gesien word in gedwonge digtheidseksperimente.
Belastingbetalers is nie die vyand nie; hulle is die ruggraat van Kaapstad se voorspoed. Die VF Plus doen ‘n beroep op burgemeester, Geordin Hill-Lewis, om eerlik betrokke te raak om oplossings te vind:
Bêre vir eers die vernietigende ontwikkelingsplanne, integreer migrasie met vaardigheidsopleiding en werkskepping en prioritiseer infrastruktuuropgraderings voordat nog ‘n baksteen gelê word.


