Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

“Geen blankes” – Stellenbosch Universiteit in advertensie vir internskappe

Die Departement Agronomie in Stellenbosch Universiteit se Landboufakulteit adverteer tans twee internskapposte vir junior navorsingsassistente. Die advertensie lui onder meer dat slegs swart / bruin / Indiër / Chinese Suid-Afrikaners met ‘n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument daarvoor in aanmerking kom.

In die praktyk is dit enige Suid-Afrikaanse burgers, solank hulle nie wit is nie.

Die VF Plus het ‘n skermskoot van hierdie advertensie ontvang en wou eers vasstel of dit eg is. ‘n E-pos is aan prof. Pieter Swanepoel gerig, die departementshoof aan wie kandidate hul aansoeke volgens die advertensie tot 1 Desember kan stuur.

‘n Geoutomatiseerde antwoord lui dat hy nie op kantoor is nie en verwys navrae na ‘n kollega. Die kollega het ‘n afskrif van die advertensie versoek, maar daarna nie weer geantwoord nie. Intussen is dieselfde advertensie op verskeie sosiale mediaplatforms opgespoor en dit kan dus as eg aanvaar word.

Die advertensie spreek van direkte diskriminasie, met weglating van die gebruiklike “voorkeur sal aan voorheen benadeelde kandidate verleen word” – of iets soortgelyk.

Dit beteken dat, indien geen swart, bruin, Indiër of Chinese Suid-Afrikaners aansoek doen nie, die poste nie gevul sal word nie.

Hierdie is ‘n uitstekende voorbeeld van die ideologie van transformatisme. Daarvolgens moet elke instelling die demografie van die land weerspieël. Die werklikheid dat sommige wit studente arm groot word, terwyl daar swart, bruin, Indiër en Chinese studente is wat alle moontlike voorregte en geleenthede geniet, word totaal buite rekening gelaat.

Die VF Plus sal steeds poog om met die universiteit in aanraking te kom om hieroor in gesprek te tree. Stellenbosch Universiteit is tevore, na aanleiding van ‘n klag van die VF Plus, deur die menseregtekommissie oor die vingers getik weens diskriminerende optrede teen Afrikaanse studente.

Meer onlangs het die universiteit in die hof ‘n bloedneus gekry weens die oorhaastige en ongegronde bevinding in ‘n urinering-saak dat die student se optrede rasgedrewe was. Die party oorweeg tans die mees toepaslike optrede vir die huidige situasie.

Intussen steun die VF Plus die private universiteit, Akademia, in sy projek om ‘n landboufakulteit tot stand te bring. Advertensies soos hierdie bewys die noodsaaklikheid daarvan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.