Die VF Plus se druk op die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) was deurslaggewend om die wiel aan die rol te sit om die Krugersdorp-wildtuin weer in bedryf te stel.
Ná jare se beloftes tydens stadsredes, geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergaderings en talle raadsittings, het die munisipaliteit nou die tender gepubliseer vir die herstel en bestuur van dié openbare ruimte.
Sedert die sluiting van die wildtuin in 2007 ná die dood van die vorige konsessiehouer, mnr. Dirk Brink, het die VF Plus onophoudelik in komitees, raadsvergaderings en die media gewerk om die heropening te bewerkstellig.
Die burgemeester, mnr. Lucky Sele, het self erken dat die VF Plus ’n bepalende rol gespeel het in die besluit om ’n vennootskapsooreenkoms via tender van stapel te stuur.
Die VF Plus verwelkom ‘n voorgestelde vennootskap tussen die munisipaliteit en die privaat sektor om hierdie eens trotse juweel van Krugersdorp weer oopgestel te kry vir die publiek.
Alhoewel hierdie slegs I die begin van die pad is, is dit ’n belangrike stap in die regte rigting. Die moontlike werksgeleenthede en inkomste wat uit die projek kan voortspruit, sal tot voordeel van alle inwoners van Krugersdorp strek.
Die VF Plus sal die tenderproses fyn dophou en toesien dat daar deursigtigheid en goeie bestuur gehandhaaf word.
Met die 2026-verkiesing om die draai, staan die VF Plus gereed om ’n nóg groter rol te speel in die heropbou van Mogale City.


