Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hooggeregshof lê Emalahleni rekord-omgewingsboete op

Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die hooggeregshof in Mpumalanga waarin ’n rekordboete van R650 miljoen aan die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, eMalahleni/Witbank) opgelê is vir ses jaar se ernstige omgewingsmisdade.

Hierdie vonnis volg direk op ’n strafregtelike klag wat die VF Plus in Augustus 2024 ingedien het wat die Groen- en Blou Skerpioene genoodsaak het om ’n deeglike ondersoek te doen wat nou tot die munisipaliteit se skuldigbevinding gelei het.

Die hof het bevind dat die munisipaliteit onwettig onbehandelde riool in sytakke van die Olifantsrivier gestort het, verskeie waterbronne besoedel het, insluitend die Witbankdam, Naawpoortrivier en Klein Olifantsrivier en andersyds versuim het om omgewingsmagtigings en -voorskrifte na te kom soos wat die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Nasionale Waterwet vereis.

Die oortredings het tussen Maart 2019 en Maart 2025 plaasgevind. Dit was ses jaar van nalatigheid wat ekosisteme vernietig, openbare gesondheid bedreig en plaaslike ekonomieë geskaad het.

Die hof het die optrede beskryf as “’n ernstige klag teen die mensdom” en beklemtoon dat tronkstraf in sulke gevalle geregverdig sou wees.

Die boete bestaan uit ’n totale bedrag van R650 miljoen of tien jaar gevangenisstraf. Hiervan is R150 miljoen of drie jaar opgeskort vir ’n periode van vyf jaar, mits geen verdere besoedelingsmisdade gepleeg word nie.

Die oorblywende R500 miljoen moet teen April 2031 uitsluitlik aangewend word vir die herstel en opgradering van afvalwaterinfrastruktuur soos bepaal in artikel 300 van die Strafproseswet.

Die munisipaliteit, verteenwoordig deur munisipale bestuurder, Sizwe Mayisela, het skuldig gepleit ingevolge ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat.

Hoewel die boete regtens teen die munisipaliteit gerig is, kom die geld vir die rehabilitasiefonds uiteindelik uit die munisipale begroting – ‘n begroting wat met belastinggeld en diensheffings van inwoners gefinansier word. Dit beteken dat die gemeenskap, wat reeds onder die gevolge van wanbestuur ly, nou ook die prys betaal vir die herstel daarvan.

Na regte behoort die verantwoordelike amptenare in hul persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou te word vir die boete, al is dit ‘n verminderde bedrag.

Die party sal daarom as waghond optree om te verseker dat die R500 miljoen rehabilitasiefonds deursigtig en doeltreffend bestuur word, dat geen sent na korrupte sakke of nie-verwante projekte vloei nie, dat vorderingsverslae gereeld aan die publiek beskikbaar gestel word en dat die munisipaliteit nie basiese dienste verminder om die boete te finansier nie.

Die mense van Emalahleni verdien skoon water, gesonde riviere en betroubare dienste en nie wanbestuur nie.

Die VF Plus bly toegewyd om inwoners se belange te beskerm, omgewingsgeregtigheid te bevorder en swak bestuur aan die kaak te stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.