Die VF Plus se Wyk 12-tak in Lydenburg het op Erfenisdag self moue opgerol om daadwerklik iets te doen aan die skandelike verval van dié dorp.
Lydenburg, soos die meeste ander dorpe in die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit (Graskop, Lydenburg, Mashishing, Pilgrimsrus, Sabie), se paaie is vol slaggate, rommel lê die wêreld vol en basiese dienste word eenvoudig nie gelewer nie.
Die voortdurende agteruitgang van Lydenburg is ʼn klap in die gesig van elke belastingbetaler.
Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe gedwing word om die munisipaliteit se werk te doen terwyl toerisme op die Panorama-roete skade ly weens vuil strate en vervalle infrastruktuur.
Die VF Plus het reeds geskryf aan die munisipale bestuurder, mnr. Roy Makwakwa, om hierdie haglike omstandighede aan te spreek.
Ons erfenis bestaan nie net uit die geskiedenis nie, maar ook uit die dorpe waarin ons leef, die strate waarin ons beweeg en die toekoms wat ons vir ons kinders bou.


