Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hoë moordsyfer wys Suid-Afrikaners is nie werklik vry

(Parlementsdebat: Erfenisdag: Ter viering van die helde en heldinne wat hul lewe vir ons vryheid afgelê het)

Elke volk het sy eie helde en heldinne uit die geskiedenis wat hy na aan die hart hou en wie se nagedagtenis altyd spesiaal sal wees. Tog is die hedendaagse helde ewe belangrik.

In Suid-Afrika is hierdie helde die 70 mense wat daagliks vermoor word en wat nooit ware vryheid sal smaak nie.

Vir die Vryheidsfront Plus lê werklike Vryheid na aan die hart, dit is immers deel van die party se naam.

Die stryd om vryheid vir die mense van Suid-Afrika het nie vir almal op dieselfde datum begin nie. Vir die Afrikaner staan die stryd teen die magtige Britse ryk hoog opgeteken wanneer vryheid ter sprake is.

Dit is die oorloë waarvan gepraat is as die Anglo/Boere-oorloë. Later die Suid-Afrikaanse oorloë. Vir Afrikaners was dit die Eerste- en Tweede Vryheidsoorloë.

Uit hierdie vryheidstryde is baie Afrikanerhelde gebore. Twee wat op Erfenisdag spesiale erkenning kry, is Lizzie van Zyl en Danie Theron.

Lizzie, ‘n broos en tenger meise van skaars sewe, is in April 1894 gebore en is op 9 Mei 1901 dood van wanvoeding en ingewandskoors terwyl sy ‘n gevangene was in ‘n Britse konsentrasiekamp in Bloemfontein.

Sy en ander wie se pa’s bittereinders was in die stryd teen die Britte, het net halwe rantsoene gekry. Sy is dood van verhongering. Gesterf vir vryheid.

Die ander held is die bekende kapt. Danie Theron.

‘n Onverskrokke vegter wat sy lewe gegee het vir vryheid toe hy manalleen ‘n groep Britse soldate gestuit en 48 skote op hulle geskiet het voordat hy in ‘n bombardement gedood is.

Hy was selfs onder die Britte legendaries. Die aanvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, Lord Roberts, het na Theron verwys as die “skerpste doring” in die Britse ryk se vlees. Net 25 jaar oud.

Dit was toe. Wie is die helde vandag? Wie is die mense wat hul lewe vandag aflê vir vryheid?

Dit is die 70 mense wat daagliks in Suid-Afrika vermoor word. Meer as 25 000 elke jaar. Het vryheid vir hulle enige betekenis? Ontneem ons land deur wetteloosheid en ‘n gebrek aan orde soveel mense hul vryheid?

Die feit dat Suid-Afrika se Grondwet die reg op lewe vir almal waarborg, het geen betekenis vir hierdie mense nie.

Die VF Plus was Bittereinders in die vorige bedeling en daarna ook Nuwe Beginners in die nuwe bedeling wat van Suid-Afrika ‘n sukses wil maak. ‘n Land waar mense waarlik vryheid ken wat op ‘n dag soos Erfenisdag met oorgawe gevier kan word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.