Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus versoek OB om tender-ondersoek na adjunkpresident se seuns uit te brei

Die VF Plus gaan die openbare beskermer (OB) versoek om die bestaande tender-ondersoek na Gautengse regeringskontrakte met die adjunkpresident Paul Mashatile se seuns, uit te brei.

Die VF Plus het in Februarie 2024 klagte by die OB ingedien oor tenders wat klaarblyklik onder verdagte omstandighede toegeken is aan twee maatskappye waarvan die adjunkpresident se seuns, Thabiso Mashatile en Tinyiko Mvelase, direkteure was.

Dit het toe geblyk dat die maatskappye, Ngwato and Manzi Group en Modipadi Nokaneng, in ʼn kwessie van drie maande drie kontrakte van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling in 2022 ontvang het.

Die VF Plus het dit toe ook vreemd gevind dat die twee seuns van die adjunkpresident juis direkteure van die twee maatskappye geword het in die tydperke wat die tenders toegeken is.

Netwerk24 het onlangs deur ‘n aansoek teen die Gauteng-regering ingevolge die Wet op die Bevordering van die Toegang tot Inligting (Paia), nuwe feite vasgestel.

Dit blyk nou dat daar vyf tenders in drie maande aan die maatskappye toegeken is, nie net drie nie.

Onlangse skriftelike antwoorde vanaf die Gautengse regering aangaande die twee maatskappye dui aan dat die omvang van die betalings aan die twee maatskappye sedert 2022 ook bykans R1 miljoen meer is as wat aanvanklik gedink is.

Daarby blyk dit dat beide maatskappye nog meer betalings van die Gautengse regering eis. Modipadi Nokaneng eis R43,9 miljoen en Ngwato and Manzi Group R94,318.

Die VF Plus sal die nuwe inligting onder die aandag van die OB bring. Die party het juis die oorspronklike klag ingedien weens die vreemde omstandighede waarin die tenders toegeken is.

Netwerk24 se ondersoek dui aan dat Thabiso Mashatile ʼn direkteur van die maatskappy was toe twee tenders in Maart 2022 toegeken is. Hy het egter net twee maande daarna op 10 Mei 2022 as direkteur bedank.

Op dieselfde dag is Tinyiko Mvelase as direkteur aangestel. Volgens Netwerk24 se ondersoek was sy aanstelling bloot ʼn maand voordat nog ʼn kontrak op Junie 2022 deur die Gautengs departement van infrastruktuurontwikkeling aan die Ngwato and Manzi Group toegeken is.

Op 10 November 2023 het Mvelase bedank as direkteur.

Daarom lyk dit op die oog af of die adjunkpresident se twee seuns op belangrike tye direkteure van die Ngwato and Manzi Group geword het ten einde meer politieke gewig te verleen aan die maatskappy se tender-aansoeke by die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling.

Daar is ander feite wat ook vreemd opval en moontlik daarop kan dui dat die kontrakte toegeken is aan ʼn maatskappy wat nie werklik in staat is om die werk te doen nie.

Toe die VF Plus die klag ingedien het, was die enigste direkteur van Ngwato en Manzi Group ʼn 24-jarige jong dame, Thato Nokaneng, wat volgens haar TikTok-profiel werkloos was.

Die drie kontrakte wat aan die maatskappy toegeken is, behels hoogs tegniese en kundige werk, naamlik die verkryging en lewering van outoklaaf-toerusting (wat stoom onder hoë druk gebruik om items te steriliseer), boumateriaal en brandmonitering en -bestrydingsdienste.

Die vraag bestaan of Nokaneng oor die kundigheid beskik om hierdie dienste en goedere te lewer.

Die geregistreerde kantoor van die maatskappy is boonop ʼn woonhuis in Alexandra, ʼn voorstad van Johannesburg.

Die VF Plus sal die saak opvolg by die OB en die nuwe inligting rapporteer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.