Inwoners van Vrystaatse munisipaliteite mag nie langer die slagoffers van munisipale finansiële krisisse wees nie.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het verlede week in ’n brief (aangeheg) aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Velenkosini Hlabisa, aangedui dat sy departement dit oorweeg om elf Vrystaatse munisipaliteite se billike aandeelfondse te weerhou weens voortgesette finansiële wanbestuur.
Godongwana se rede vir dié drastiese stap sluit onder meer onbefondsde begrotings, voortdurende wanbetalings aan waterrade en derdeparty-bydraes in.
Hlabisa was veronderstel om teen Donderdag skriftelike insette hieroor by die nasionale tesourie (NT) in te dien.
Hoewel die NT ’n grondwetlike plig het om staatsgeld te beskerm, sal die weerhouding van fondse verreikende gevolge vir inwoners inhou.
Die VF Plus het intussen die Vrystaatse LUR vir Cogta, Saki Makoena, gevra om aan te dui hoe sy departement effektief gaan ingryp by munisipaliteite wat nie hul billike aandeelfondse aanwend tot voordeel van inwoners nie, maar dit eerder aan enorme salarisrekeninge bestee.
Dit is geld wat hoofsaaklik vir dienslewering bestem is.
Intussen beloop agterstallige derdeparty-oordragte honderde miljoene rand en skuld aan waterrade miljarde. Dit is nie volhoubaar nie.
Om geld van sukkelende munisipaliteite te weerhou, is nie genoeg nie. Al drie regeringsvlakke het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat inwoners se regte beskerm word.
Die VF Plus sal ook in die betrokke portefeuljekomitee in die Vrystaatse wetgewer daarop aandring dat die regering aandui hoe die voortdurende wanbestuur aangespreek gaan word.
Die volgende munisipaliteite se geld kan moontlik weerhou word:
• Matjhabeng (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom)
• Maluthi-A-Phofung (Harrismith, Kestell, Phuthaditjhaba)
• Kopanong (Bethulie, Edenburg, Fauresmith, Gariep Dam, Jagersfontein, Philippolis, Reddersburg, Springfontein, Trompsburg, Waterkloof)
• Letsemeng (Jacobsdal, Koffiefontein, Luckhoff, Oppermansgronde, Petrusburg)
• Mohokare (Rouxville, Smithfield, Zastron)
• Masilonyana (Soutpan, Theunissen, Verkeerdevlei, Winburg, Winnie Mandela (Brandfort)
• Nketoana (Arlington, Lindley, Petrus Steyn, Reitz)
• Phumelela (Memel, Vrede, Warden)
• Ngwathe (Edenville, Heilbron, Koppies, Parys, Vredefort)
• Mafube (Cornelia, Frankfort, Tweeling, Villiers)


