Dit is onregverdig en kortsigtig van die Gautengse departement van gesondheid om alle dokters verbonde aan die Tshwane-metro se departement van gesondheid se kontrakte op 31 Maart te beëindig.
Hierdie dokters was deel van die nasionale gesondheidsversekering-loodsprogram.
Duisende pasiënte wat deur 24 van hierdie klinieke in Tshwane bedien word, word hierdeur geraak.
Volgens inligting is die dokters slegs per WhatsApp in kennis gestel dat hul dienskontrakte verstryk het en dat nuwe kontrakte slegs hernu sal word indien dokters as onafhanklike kontrakteurs registreer.
Dit behels dat dokters eers hul eie maatskappy moet registreer waarvoor ʼn swart ekonomiese bemagtigingsertifikaat bekom moet word voordat hulle op ʼn sentrale databasis vir diensverskaffers kan registreer. Hulle sal ook slegs 20 ure per week in ʼn distrik kan werk.
Die verandering in die dienskontrakte kan daartoe lei dat klinieke met minder dokters oor die weg moet kom omdat dokters hulle nie aan sulke streng voorwaardes met baie minder werksure wil verbind nie.
Die VF Plus-LPW, adv. Anton Alberts, is besig om met die Gautengse departement van gesondheid oor die aangeleentheid te vergader.
Die party het voorgestel dat die hernuwingsproses hersien moet word om onnodige rompslomp te vermy.
Die departement is ook gevra om duidelikheid te gee oor planne vir permanente poste en of daar bloot voorgegaan sal word met vastetermynkontrakte.
Die VF Plus sal by die saak betrokke bly om seker te maak die regte van dokters en die behoeftes van pasiënte word beskerm.


