Wanneer iemand sê of sing dat mense van ‘n sekere groep geskiet en doodgemaak moet word, is en bly dit haatspraak, verdelend en absoluut onaanvaarbaar, veral in ‘n land waar groot rassespanning ervaar word.
Die VF Plus veroordeel die sing van die lied “Kill the Boer” nog altyd ten sterkste en het deurentyd die publiek se frustrasie gedeel oor die swye van die regering en die land se menseregtekommissie (MRK) daaroor. Daar is geen plek vir só ‘n lied in Suid-Afrika nie.
‘n Dreigement word sekerlik gemeet aan hoe ernstig die ontvanger dit insien en die wesenlikheid daarvan ervaar.
Die land se geskiedenis van plaasmoorde laat geen twyfel oor die werklikheid van sulke dreigemente en hoe dreigend en beledigend wittes in die land dit ervaar nie.
Dit is duidelik dat ook die Amerikaanse regering dit so insien. Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het vandeesweek op sosiale media gesê “Kill the Boer” hits geweld aan en Suid-Afrika se regering moet “stappe neem” om die Afrikaner en ander minderhede te beskerm.
Dit volg op Julius Malema, leier van die EFF, se sing van die lied saam met sy volgelinge op Menseregtedag in Sharpeville, Soweto.
President Cyril Ramaphosa het net sy swye verbreek om te praat oor AfriForum en Solidariteit se “onpatriotiese” gedrag weens hul gesprekke met Amerikaanse regeringswoordvoerders en om dié organisasies te maan tot “eenheid” in Suid-Afrika.
Eensydige eenheid sal nie werk nie. Veral nie in Suid-Afrika nie. Daar sal van alle kante na mekaar uitgereik moet word. Die Sing van Kill the Boer is allermins ‘n gebaar van “eenheid”.
Die ANC mislei homself deur voor te gee die buiteland en veral Amerika se houding teenoor Suid-Afrika is gebore uit onlangse gebeure. Dit is nie.
Ook die VF Plus het oor die jare elke geleentheid aangegryp om die buiteland bewus te maak van wat in Suid-Afrika aangaan en van die vergrype in die land soos plaasmoorde en dreigende onteiening. Ook by die Verenigde Nasies (VN).
Dit is hierdie optrede van die ANC self met onder meer sy buitelandse beleid wat Amerika nou ‘n streep in die sand laat trek het.
President Ramaphosa se stilte oor iets wat wesenlike verdeeldheid veroorsaak en wat ‘n deel van die bevolking oproep tot volksmoord op ‘n ander groep mense, spreek dawerend.
Indien hy ernstig was oor eenheid, sou hy die lied ten sterkste veroordeel het, ongeag van wie dit kom en ongeag die howe en die MRK se vertolking daarvan. Hy is president van almal in die land.


