Die minister van handel, nywerheid en mededinging, mnr. Parks Tau, het ‘n besprekingsdokument vir ‘n sogenaamde transformasiefonds bekendgestel.
Hierdie fonds herinner aan die Roomse Kerk se verkoop van aflaatbriewe in die vyftiende eeu. Lidmate kon vergifnis vir hul sonde “koop” terwyl die kerk fluks geld gemaak het.
Die dokument se probleemstelling is dat, na al die jare van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) – (die eerste wetgewing is in 2003 aangeneem en dit is in 2013 hersien) swart mense se aandeel aan die ekonomie steeds te klein is.
Die oplossing is dat die staat ‘n fonds moet skep wat ondernemings in swart besit help om suksesvol as voorsieners van goedere en dienste aan die ekonomie deel te neem.
Die dokument se vertrekpunt is SEB-wetgewing, waarvolgens groot ondernemings die “onregte van die verlede” deur “swart bemagtiging” moet help regstel.
Die veronderstelling is dat hierdie ondernemings hul gunstige posisie juis aan historiese bevoordeling te danke het.
Volgens SEB-wetgewing kan hierdie ondernemings punte verdien, as voorwaarde om met die staat, of selfs met die staat se leweransiers, sake te doen.
Volgens die besprekingsdokument kan ondernemings egter ook geld aan die nuwe fonds oorbetaal. Die staat sal dieselfde doen. Sรณ moet die fonds teen R20 miljard per jaar binne vyf jaar tot R100 miljard groei.
Die opbrengs sal uitsluitlik ten bate van ondernemings waarvan die oorwig van aandeelhouding swart is, aangewend word.
Dit is duidelik dat die dokument ook veronderstel dat die staat die geld meer doeltreffend as die private sektor sal aanwend. Dit is nie duidelik uit watter prestasie oor die afgelope dertig jaar hierdie selfvertroue spruit nie.
Die VF Plus se indruk is eerder dat die staat se inkomste weens korrupsie en wanbesteding nie met sy uitgawes tred hou nie. Daarom word die private sektor weereens op sy vermeende historiese skuld gewys.
Die doel is egter nie meer om swart mense direk te bemagtig nie, maar om geld te betaal onder die indruk dat die staat die bemagtiging sal doen. Dit is amper soos om vergifnis vir historiese skuld te koop, soortgelyk aan die berugte aflaatbriewe.
Die ironie is dat pogings om swart mense toenemend by die formele ekonomie in te sluit, al voor 1994 begin het om miljardรชrs te skep – byvoorbeeld president Cyril Ramaphosa. Hierdie mense se kinders kon aan die duurste instellings skoolgaan en studeer, maar kan weereens voor in die ry staan wanneer hierdie fonds se voordele beskikbaar is.
Enigeen kan tot 7 Mei kommentaar op die voorgestelde fonds indien. Die VF Plus loods hiermee ‘n veldtog daarteen en moedig burgers en burgerlike instellings aan om aan die openbare proses daaroor deel te neem.


