Die waterbeperkings wat vanaf 1 Februarie 2025 in Robertson in die Langeberg-plaaslike munisipaliteit (Ashton, Bonnievale, McGregor, Montagu, Robertson) gegeld het, was onnodig en is einde verlede maand op aandrang van die VF Plus opgeskort.
Die VF Plus het die munisipaliteit se rede vir die instel van die waterbeperkings, naamlik die lae reënval, weerlê op grond van ʼn onafhanklike ondersoek van ʼn plaaslike ingenieur, ander waterdeskundiges en plaaslike boere.
Hul bevinding was eenparig dat daar genoeg water beskikbaar is, dat geen waterbeperkings nodig is nie en dat die watertekort veroorsaak is deur nalatigheid aan die kant van die munisipaliteit.
Boonop is inwoners gedreig met boetes indien hulle die voorgeskrewe aantal waterverbruik sou oorskry en ander maatreëls oortree. Die situasie het tot groot ontevredenheid onder inwoners gelei en was basies ʼn herhaling van die Januarie 2022-waterkrisis.
Wat nou duidelik geblyk het, is dat geen les geleer is uit die vorige krisis nie en dat geen voorkomende maatreël ingestel is om ʼn soortgelyk situasie te vermy nie.
Alhoewel die VF Plus eens is dat water ʼn skaars kommoditeit is en daar spaarsamig daarmee omgegaan moet word, kan inwoners nie gestraf word vir die laksheid van die munisipaliteit wat nie sy waterinfrastruktuur en waterbronne na behore onderhou nie.
Van die ander besluite wat die raad geneem het na aanleiding van die VF Plus se onafhanklike ondersoek, is:
• Dat ʼn onafhanklike maatskappy ʼn ondersoek sal doen en aanbevelings maak ten opsigte van waterinfrastruktuur en ander inhstandhoudingskwessies.
• Dat die Dassieshoek-damwal verhoog word om wateropvangs te verbeter.
• Dat die munisipaliteit onderneem om die slik in die dam te verwyder om die dam dieper te maak.
Die VF Plus in Langeberg plaas ten alle tye die belange van inwoners eerste en sal nie toelaat dat hulle in die duister gehou word oor die ware toedrag van sake nie.


