Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners en ondernemings in die Ekurhuleni-metro om nie private loodgieters en kontrakteurs aan foutiewe krag- en rioolstelsels buite hul eiendom te laat werk nie.
Hierdie versoek spruit uit die dood van drie loodgieters Maandag wat ʼn blokkasie op ʼn rioollyn wou verwyder.
Een van die mans het glo in die mangat afgeklim waarna die ander twee gevolg het. Hulle is waarskynlik deur metaangas oorweldig.
Lede van die metro se departement van ramp- en nooddienste was gou op die toneel maar die mans was toe reeds oorlede.
Indien inwoners of ondernemings gebruik wil maak van private kontrakteurs om herstelwerk aan munisipale infrastruktuur buite hul eiendomme te verrig, moet die metro se onderskeie departemente hiervan in kennis gestel word.
Alhoewel die VF Plus inwoners se frustrasies met die metro se trae dienslewering verstaan, is dit duidelik dat onkundigheid tot lewensverlies kan lei.
Die VF Plus spreek sy medelye uit met die oorledenes se naasbestaandes.


