Die VF Plus in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) is gekant teen ʼn salarisverhoging vir raadslede aangesien dié geld eerder gebruik kan word om skuld aan Randwater te verlig.
Die VF Plus het in ʼn raadsvergadering teen die verhogings gestem weens die feit dat die munisipaliteit bankrot is en nie salarisverhogings kan bekostig nie.
Groot dele van die munisipaliteit was onlangs vir weke sonder water omdat hy nie sy skuld van meer as R1 miljard aan Randwater kan betaal nie.
Randwater het die watertoevoer daarom met 20% gesny wat meegebring het dat reservoirs nie genoeg water kon opgaar om inwoners te bedien nie.
Die VF Plus kan geen rede sien waarom inwoners wat weens die wanbestuur van die munisipaliteit nie eens water het nie, verhogings aan raadslede moet gee nie.


