Dit het aan die lig gekom dat kontrakteurs gereeld by die Valsrivier in Kroonstad gewaar word waar hulle met groot tenkwaens onwettig water uit die rivier tap.
Dié onwettige onttrekkings lei tot ʼn groot afname in die rivier se watervlakke wat ernstige gevolge inhou vir die volgehoue waterverskaffing aan inwoners. Op die lang termyn kan dit selfs tot waterbeperkings lei.
Die VF Plus het saam met die waarnemende munisipale bestuurder, adv. Mzwakhe Mofokeng, ʼn oorsigbesoek aan die rivier gebring ná klagtes van inwoners oor die aangeleentheid.
Die rivier se water word gesuiwer vir inwoners se gebruik en dit is onwettig vir enigeen om sonder toestemming water uit die rivier te onttrek.
Mofokeng het onderneem om dadelik op te tree en ʼn stop te sit aan hierdie praktyke.
Kontrakteurs is veronderstel om water uit die munisipale boorgate te gebruik vir konstruksiewerk.
Aangesien die reënseisoen nog nie aangebreek het nie en die Serfonteindam wat ook water moet lewer tans leeg is, moet water spaarsamig gebruik word.
Die VF Plus sal voortgaan om die situasie te monitor en doen ʼn beroep op inwoners en ondernemings om kosbare hulpbronne soos water te help beskerm.


