Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga: VF Plus onderneem om nuwe premier te steun

Die VF Plus steun die planne wat Mpumalanga se pas verkose premier, mnr. Mandla Ndlovu, vir sy termyn uiteengesit het – solank dit uitgevoer word.

In teenstelling met sy voorgangers, gee die nuwe premier erkenning aan verskeie van die kwelpunte wat die provinsie in die gesig staar.

Dit is belowend dat mnr. Ndlovu besef dat ʼn reuse taak nodig is om provinsie van totale ineenstorting te red en dat hy reeds begin het om van die planne in werking te stel.

Die nuwe premier se beloftes blyk gefokus te wees op die provinsie se finansiële stabiliteit en die lewering van kerndienste aan inwoners.

Mnr. Ndlovu neem die leisels oor van ʼn provinsiale regering wat Mpumalanga in die afgrond bestuur het. Sy grootste uitdaging binne die ANC-regering sal wees om die provinsie en sy mense se belange bo dié van sy party se selfdienende neigings en uitgediende beleidsrigtings te stel.

Die feit dat hy daadwerklik die stand van finansiële bestuur en swak dienslewering in die provinsie aangespreek het en uitvoerbare planne ter tafel gelê het, skep hoop dat verandering wel kan plaasvind.

Die VF Plus verwelkom die feit dat die nuwe premier al die partye genooi het om hande te neem met hom en hom te ondersteun om kundige amptenare aan te stel.

Hy sal egter dieselfde moet doen op munisipale vlak aangesien dit steeds die wit olifant in die vertrek is wat deur niemand erken word nie.

Mnr. Ndlovu se fokus is om die privaat sektor te betrek en die feit dat hy reeds met verskeie rolspelers ontmoet het, is ʼn positiewe stap en nie net lippetaal nie.

Die VF Plus sal toenemend druk toepas om toe te sien dat hierdie beloftes uitgevoer word.

Die VF Plus sal hom steun in sy geveg teen die sogenaamde “mafias” wat in die provinsie werk. Mnr. Ndlovu het sy fokus geplaas op die sogenaamde “kontrakteur-mafia” maar die VF Plus sal graag wil sien dat hy ook toeslaan op die bendes wat veral gemeenskapsveiligheid en die myn- en toerismebedryf bedreig.

Die effek van beurtkrag op die provinsie se sosio-ekonomiese omstandighede is ʼn krisis. Dit bly een van die grootste kwelpunte wat nie regtig aangespreek is nie.

Munisipaliteite bly gereeld in gebreke om kritieke dienste soos watervoorsiening te lewer.

Plaaslike ondernemings is onder druk om self kostes aan te gaan om duur energie-alternatiewe soos diesel vir kragopwekkers aan te koop om hul deure oop te hou.

Die premier is by magte om dringende stappe te neem om die provinsie minder afhanklik van die nasionale netwerk te maak.

Dit moet geprioritiseer word.

Alhoewel die VF Plus bogenoemde beloftes en die geleentheid om nouer saam te werk steun, sal die premier nog sy staal moet wys. Dus sal die VF Plus nie verslap in die oorsigrol wat hy binne die wetgewer speel nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.