Vir ʼn polisiegeneraal wat tweede in bevel is van misdaadintelligensie om aan ʼn tafel te sit met ʼn beweerde rampokker op ʼn dinee van die EFF waarvan die leier, Julius Malema, mense die naweek weer aangehits het om boere te vermoor, is uiters kommerwekkend.
Dié optrede van genl.maj. Feroz Khan is skandelik en ʼn klap in die gesig van alle Suid-Afrikaners wat met wydverspreide misdaad en korrupsie worstel. Dit laat ook wesenlike vrae ontstaan oor die polisie se erns oor plaasmoorde.
Khan was luidens mediaberigte verlede Donderdag ʼn gas op ʼn glansdinee in Ekurhuleni ter viering van die EFF se tiende bestaansjaar. Hy het ʼn tafel gedeel met die omstrede tabakbaas Adriano Mazzotti.
Khan se teenwoordigheid is waarskynlik ook tekenend van Malema se klaarblyklike mening dat hy bo die reg verhewe is aangaande sy uitsprake wat rassehaat en moord op boere aanhits.
Pas nadat die Johannesburgse hooggeregshof bevind het die MRK was verkeerd met sy bevinding dat Malema nie die wet oortree het met sy uitsprake dat wittes nie “nou al” vermoor moet word nie, het Malema gister voor ʼn volgepakte FNB-stadion glo weer die lied “kill the farmer” gesing. Dit wys sy minagting vir die hof se uitspraak.
Khan se teenwoordigheid wys onomwonde sy noue bande met die EFF. Benewens die boodskap wat dit aan Suid-Afrikaners oor misdaad stuur, is dit ook minagtend en gevoelloos teenoor slagoffers van misdaad.
Sy sosialisering met Mazzotti versterk die vermoede dat misdaadintelligensie korrup is en deel vorm van misdaadsindikate.
Hy verklaar ook sy politieke voorkeur wat ongewens is vir senior bestuurslui van die polisie. Dit kan daartoe bydra dat ondersoeke na die EFF verydel word. Die minister moet ʼn gedragskode daarstel wat sulke optrede verbied.
Vir die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, om Khan se optrede goed te praat deur te sê die polisie is ʼn apolitieke organisasie, is onvanpas en kortsigtig.
Die polisie kan hom nie so maklik distansieer van Khan se optrede as die persoon wat tweede in bevel staan van ʼn eenheid soos misdaadintelligensie nie.
ʼn Mens word aan jou vriende geken en wanneer jou vriendekring mense insluit wat na bewering by misdaad betrokke is en wat moord en rassehaat aanjaag, moet die rooi ligte flikker.
Ek sal vrae in die parlement hieroor vra aan die minister van polisie, Bheki Cele, asook die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola. Die polisie moet sê of hy hom met mense soos Mazzotti en Malema vereenselwig.


