Die begrotingswetsontwerp vir die 2018/19 finansiële jaar se vertrekpunt is slegs korttermyn politieke oorlewing vir die ANC. Geen departement se toewysing spreek werklik die probleme van Suid-Afrika aan nie.
Tydens die afgelope paar weke se begrotingsposdebatte het die ANC herhaaldelik die narratief herhaal dat al die probleme wat tans ervaar word deur apartheid veroorsaak is en was dit duidelik dat hul ideologiese lojaliteite vir hul belangriker is as vooruitgang.
Daar kan nie aanhoudend vinger na die verlede gewys word oor armoede en agteruitgang in Suid-Afrika nie.
Die begrotingswetsontwerp is kenmerkend van die land se probleme aangesien dit bloot gemik is op korttermyn-politieke gewin vir die ANC-regering ten koste van die 13,8 miljoen mense wat onder die broodlyn leef.
Daar word voorsiening gemaak vir maatskaplike toelaes, maar niks word gedoen om ‘n gunstige omgewing vir ekonomiese groei te skep nie. Waar daar wel begroot word vir sinvolle projekte, kom daar niks van nie aangesien die regering nie in staat is om sy eie planne uit te voer nie.
Die Ouditeur-Generaal (OG) het hierdie week gesê plaaslike regerings het groot probleme en dat dit tesame met verswakkende infrastruktuur dringende aandag vereis. Indien infrastruktuur verval, sal geen plan die ekonomie kan stimuleer nie.
Staatsbeheerde entiteite is onvolhoubaar. ‘n Voorbeeld is die samesmelting van die SAL, SA Express en Mango om die probleme daar op te los. Dit sal die krisis eerder vererger. Entiteite onder staatsbeheer val uitmekaar en moet geprivatiseer word. Dit is die enigste oplossing.
Die regering wil dit nie doen nie omdat sy ideologiese behoeftes gevoed word deur ‘n misplaaste lojaliteit aan ‘n stelsel wat wêreldwyd misluk het. Suid-Afrika het ‘n kompeterende privaatsektor nodig, en nie swartkolke onder regeringsbeheer waarin belastingbetalers se geld verdwyn nie.
Die regering, nasionale-, provinsiale departemente en munisipaliteite het misluk. Daar is geen vermoë om te regeer nie. Dit is waarom daar armoede in die land is en die skuld hiervoor word deurgaans op die verlede gepak. Hierdie begrotingswetsontwerp gaan nie help om die land se probleme te verminder nie.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216