Regter Raymond Zondo, wat vandag as die nuwe hoofregter aangewys is, was die voorkeur-kandidaat van die VF Plus en die party is ook van mening dat hy die beste kandidaat was vir die pos.
Regter Zondo het homself bewys met die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
Hy het nie geskroom om indringende vrae te vra nie ongeag van die belangrikheid of status van individue in hoë politieke poste wat voor hom verskyn het.
Hy het diegene wat betrokke was by korrupsie ontbloot en selfs gevra dat van hulle verder ondersoek moet word.
Dit dui daarop dat hy polities onafhanklik dink, en dat hy nie voorkeure het nie.
Dit is wat verwag word van ’n hoofregter; dat hy sonder vrees of vooroordele beslissings en bevindings moet kan maak.
Die VF Plus wens regter Zondo sterkte toe met die aanstelling en glo en vertrou hy sal voortgaan om die onafhanklikheid van die regbank en die respek wat dit behoort te kry, te verseker.