Die VF Plus beskou die uitvoering van enige begroting as betekenisloos sonder politieke aanspreeklikheid.
Daarom het die VF Plus met twyfel kennis geneem van die ANC-regering se begroting vir Gauteng wat die LUR vir finansies, Nomantu Nkomo-Ralehoko, gister in die wetgewer voorgelê het.
Die ANC-regering se begroting het geen waarde sonder dat diegene wat verantwoordelik is vir die grootskaalse wanadministrasie, korrupsie en bedrog, aanspreeklik gehou word nie.
Dit sluit natuurlik ook die politieke leierskap in van die departemente waarin die grootste bedrog plaasgevind het, soos die departement van onderwys onder die leierskap van Panyaza Lesufi.
Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) beskou trouens Lesufi se departement as die grootste sondaar in die land wanneer dit by Covid-19-korrupsie kom.
In enige legitieme demokrasie sou Lesufi van sy pos onthef gewees het. Dis egter duidelik dat by die ANC die party eerste kom voor die provinsie en sy inwoners wat al hoe swaarder leef.
Die toekenning van 'n astronomiese bedrag van R59,7 miljard aan die departement van onderwys terwyl daar 'n wolk van misdadigheid en wanbestuur hang, is problematies.
Die departement van onderwys kry die grootste deel van die begroting, selfs groter as dié van gesondheid (R59,4 miljard) wat verbasend is teen die agtergrond van die Covid-19-pandemie waarvan nog 'n vyfde vlaag verwag word.
Bykomend tot die gebrekkige leierskap in die departement van onderwys, is daar die bykomende kwessie van 'n gebrek aan gehalte-onderrig. Die onderwysdepartement is meer behep om kunsmatige hoë slaagsyfers te genereer ten koste van kwalitatiewe uitkomste.
Die privaatsektor en hoër onderwysinstellings raak al hoe meer bekommerd oor die gebrek aan kennis en insig wat matrikulante besit wanneer hulle die skool verlaat.
Die ANC versaak die jongmense van die provinsie ter wille van 'n ideologies-gedrewe hoë slaafsyfer om die ANC gunstig te laat lyk.
Alhoewel die begroting R12,3 miljard beskikbaar maak vir infrastruktuur, is dit algemeen bekend dat die departement van infrastruktuur wanfunksioneel is.
Sonder ingryping en die aanstel van bevoegde persone in sleutelposisies, sal die fondse waarskynlik verkeerd aangewend word en baie daarvan nooit eens gebruik word nie, soos in die verlede.
Gauteng het 'n behoefte aan infrastruktuur-opgradering en -onderhoud, veral op paaie en in skole, maar dit is te betwyfel of die behoefte vervul sal word.
Die begroting kan natuurlik ook aangewend word om korttermyn werksgeleenthede te skep indien dit reg aangewend word.
Die belangrikste kwessie, naamlik grootskaalse eksterne beleggings in Gauteng, is egter nie in wese aangespreek nie.
Die ANC gaan eerder voort met sy ideologie dat die staat as ontwikkelingsagent moet inmeng in die ekonomie en werk skep.
Die waarheid is egter dat Gauteng vertroue moet inboesem by beleggers om privaatfondse in die provinsie te belê. Dit gebeur egter nie.
Die ANC-regering met sy inmenging in die ekonomie veroorsaak meer skade en stoot potensiële beleggers weg.
Die inwoners van Gauteng moet dus nie verwag dat die nuwe begroting die lewe van meeste mense gaan verbeter nie.
Dit is meer van dieselfde idees wat opgedis word sonder dat meriete en aanspreeklikheid 'n rol hierin speel.
Die enigste oplossing is om die ANC uit die kussings te lig in 2024 en te vervang met 'n koalisie van opposisiepartye soos in die Gauteng-metro’s.


