Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse begroting: Provinsie se finansiële slaggat vergroot, minder geld vir paaie

Die Vrystaatse begroting wat vandag ter tafel gelê is, spreek van ‘n provinsie wat nie weet hoe om sy geld te bestee nie.

Die enorme salarisrekening van die provinsiale regering beslaan sowat 62% van die totale begroting. Meer as R25 miljard word vir salarisse begroot.

Die onderbesteding van voorwaardelike toekennings deur provinsiale departemente as gevolg van swak beplanning, ‘n gebrek aan behoorlike leierskap en korrekte prioriteite, het daartoe bygedra dat die provinsie R65 miljoen in die 2022/23-boekjaar verbeur.

Die onderbesteding van die departemente van polisie, paaie en vervoer (R45,19 miljoen) en menslike nedersettings (R20 miljoen) veroorsaak dat dié geld nou na ander provinsies gekanaliseer word.

Die LUR vir finansies, Gadija Brown, het tydens ‘n provinsiale rekeningekomitee voor haar begrotingstoespraak aangedui dat ‘n gebrek aan kapasiteit die rede vir die verlies is.

Dit is in die vorm van menslike hulpbronne en kundigheid in veral die departement van polisie, paaie en vervoer.

Sy erken dus dat ‘n tekort aan fondse nie die probleem is nie, maar eerder ‘n kundigheidsprobleem.

Die provinsie word verder gepenaliseer weens dié departement se swak prestasie en sal ook sowat R107 miljoen minder in die 2022/23 boekjaar vir padinstandhouding ontvang.

Terwyl die ANC-regering sê dat hy ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat prioritiseer, versuim hy om toegekende fondse aan kritieke padinfrastruktuur te bestee.

Padinfrastruktuur staan sentraal tot ekonomiese groei. Die vrot toestand van Vrystaatse paaie is ‘n tasbare realiteit van die ANC se regstellende aksie- en swart ekonomiese bemagtigingsbeleid wat tot ‘n gebrek aan kundige amptenare lei.

Solank die ANC se beheptheid met swart ekonomiese bemagtiging as dekmantel vir selfverryking van die ANC-elite bestaan, sal die provinsie nie ontwikkel nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.