Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Grootskaalse besoedeling weens diefstal uit dieselpypleiding moet gestuit word

Die diefstal van diesel tussen Harrismith en Verkykerskop in die Maluti-a-Phofung-munisipale gebied, uit Transnet se pypleiding van Durban na Johannesburg, het gelei tot ‘n diesellekkasie van duisende liter wat direk in die Meulriver in hierdie gebied invloei.

Die Meulrivier vloei na die Vaaldam wat miljoene mense en diere, onder meer die ganse Gauteng-provinsie, van drinkwater voorsien.

Diefstal langs die pypleiding is ‘n reuse probleem wat gereeld voorkom.

Transnet, sowel as boere van die omgewing en ander rolspelers, span saam om onder meer kameras langs die pypleiding aan te bring wat tot bekamping van hierdie tipe diefstal lei, maar dit vind steeds plaas. Hierdie maatreëls word ook ingespan om diewe vas te trek.

Die VF Plus doen ‘n beroep op wetstoepassers om te verseker dat hierdie oortreders die swaarste moontlike straf opgelê word.

Diefstal van diesel uit die pypleiding veroorsaak geweldige skade vir Transnet en die vermorsing van duisende liter diesel, in ‘n tyd waar tekorte aan minerale- en energiehulpbronne die land en die wêreld in die gesig staar, is uiters kommerwekkend.

Wat die situasie vererger, is die ekologiese ramp wat spruit uit duisende liter diesel wat vryelik in ‘n rivier inloop weens lekke wat deur diefstal veroorsaak word.

Hierdie water is uiteraard nou ongeskik vir menslike gebruik en is op pad om een van die land se grootste bronne van drinkwater te vergiftig.

Die VF Plus het dringend geskakel met die LUR vir omgewingsake in die Vrystaat, mnr. Makalo Mohale, sodat sy departement kan ingryp oor die besoedeling van die Meulrivier. Die LUR het onderneem om dringend ‘n span te stuur om ondersoek na die besoedeling van die Meulrivier as gevolg van die lekkasie in te stel.

‘n Skrywe is ook gerig aan die minister van omgewingsake, me. Barbara Creecy, waarin die nasionale departement se aandag op hierdie ekologiese ramp gevestig word en dringende ingryping ook uit hierdie oord versoek is.

Hoewel Transnet reeds daaraan werk om die lekkasie te herstel, is reuse skade reeds aangerig en sal die VF Plus aanhou om druk op die onderskeie departemente te plaas om verdere skade aan waterbronne te voorkom.

Oortreders, wat geen respek vir mens, dier of eiendom het nie, moet spoedig vervolg en behoorlik gestraf word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.