Die groter fokus wat die Noord-Kaapse begroting vir die 2022/23-finansiële jaar op gesondheidsorg, onderwys en die regruk van plaaslike regering plaas, word verwelkom.
Daar sal egter gesien moet word of die belofte om sterk op te tree teen korrupsie op alle vlakke van regering in die provinsie, vrugte gaan afwerp.
Die departement van onderwys se verhoogde begroting is in lyn met voorstelle van die VF Plus dat groter fokus geplaas moet word op die kwaliteit van onderrig om kinders in staat te stel om hul volle potensiaal te bereik.
Die VF Plus sal wel wil sien dat ‘n strategie ontwikkel word waarvolgens skoolverlaters tydens 'n diensjaar noodsaaklike ervaring en vaardighede kan opdoen om jeugwerkloosheid te bowe te kom.
Die groter toekenning aan gesondheidsorg is ‘n verdere ligpunt. Die Noord-Kaap is ‘n uitgestrekte provinsie en die meeste inwoners is afhanklik van openbare gesondheidsorg.
Meer klinieke is onder meer nodig om inwoners van plattelandse gebiede toegang te bied tot noodsaaklike mediese behandeling. Baie bestaande klinieke is in ‘n toestand van verval wat inwoners dwing om groot kostes aan te gaan in die soeke na mediese behandeling.
Die verlaging vir die departement van landbou maak nie sin nie gesien in die lig van die huidige probleme waarmee landbouers in die provinsie gekonfronteer word.
Daar is nie behoorlik voorsiening gemaak vir ramphulp aan boere wat eers ‘n droogte en nou vloede en sprinkaanplae moet trotseer nie.
Landbou lewer ‘n groot bydrae tot die ekonomie van die Noord-Kaap en moet as prioriteit behandel word.
Die meeste munisipaliteite kan nie hul grondwetlike plig nakom om effektief dienste aan inwoners te lewer nie.
Die belofte van beter finansiële toesig oor munisipaliteite word verwelkom. Daar sal egter net ‘n daadwerklike verskil aan inwoners se omstandighede kom indien daar teen skuldige munisipale amptenare opgetree word en kaders vervang word met bevoegde amptenare.


