fbpx
Vryheidsfront Plus

Wysiging aan belastingwet nog ‘n slag vir land se finansies

Beoogde wysigings aan bestaande belasting- en administrasiewette sal dien as verdere spykers in Suid-Afrika se finansiële doodskis en sal bloot ‘n kanaal skep waarlangs belastinggeld makliker na staatskapers herlei kan word, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts het vandag met die eerste lesingsdebat van die Tariewe en Monetêre Bedrae en Wysiging van Inkomstewette Wetsontwerp, Belastingwette Wysigingswetsontwerp en Administrasiewette Wysigingswetsontwerp, gesê die wysigings verteenwoordig die stelsel van staatskaping.

Hy het gesê die minister van finansies moet in ag neem dat hy tans in die oog van ‘n perfekte storm instaar wat belastinginvordering aanbetref.

“Die omgewing vir belasting het drasties verander omdat belasting-moraliteit en die sakeomgewing verander het. Dit is twee faktore wat verreken moet word en wat die volgende boodskap aan die regering stuur:

“Ten eerste het die sake-omgewing só negatief geword, dat die ekonomie inkrimp. Die Laffer-kurwe is reeds bereik waar hoër belasting bloot tot minder beleggings lei. Ook weens die ANC se swak fiskale en sakebeleid, en die plundering van hulpbronne.

“’n Suid-Afrikaanse sakeman in die finansiëledienstesektor, wat sy sake na Brittanje verskuif het, het my verlede jaar gevra waarom die ANC-regering die sakeomgewing haat. Al wat hy wil doen, is om in Suid-Afrika te floreer en werk te skep. Ek kon hom nie antwoord nie. Miskien kan die minister verduidelik hoekom hulle sake sien as ‘n vyand wat vernietig moet word.

“Wat die middelklas, die grootste bydraer tot die fiskus, aanbetref, kan ons net aanvaar dat mense met minagting deur die regering en die inkomstediens (SAID) behandel word, want dit is dié klas wat vernietig moet word.

“Die inkomstediens is besig met 'n volskaalse oorlog teen individuele belastingbetalers. Die diens word ook misbruik as instrument om politieke opponente by te kom. Daar is waarskynlik nie 'n opposisie-LP wat tans nie geoudit word nie.

“Ten tweede is die VF Plus van mening dat ons reeds 'n stadium van 'n spontane en stille belastingopstand betree het. Belastingbetalers wil nie 'n gekaapte staat subsidieer nie. Die individuele belastinglas het die punt verbreek waar hoër belasting tot minder invordering lei.

“Selfs Kanada het nou dié punt bereik, alhoewel dié land se hoogste belastingkerf 33 persent is in vergelyking met Suid-Afrika wat vinnig op pad is na ‘n hoogte kerf van 50 persent.

“Die minister moet verstaan dat dié belasting-uitdagings ‘n maaksel van sy eie party is. Dit gaan nie verander nie totdat ‘n nuwe regering in 2019 verkies word. Ons sal voortgaan om almal wat aandeel hieraan het, te onbloot en verantwoordbaar te hou,” sê adv. Alberts.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.