“Me Lindiwe Mazibuko, parlementêre leier van die DA, se opmerking dat die DA ontslae moet raak van wit nasionaliste, is ‘n belediging vir daardie wit kiesers wat gesorg het dat die DA die amptelike opposisie is. Wat sy eintlik sê is dat enige wit kieser wat nie skaam is dat hy/sy ‘n Afrikaner is nie, is nie welkom in die DA nie,” sê dr. Pieter Groenewald (LP), parlementêre leier van die Vryheidsfront Plus.
Die gewraakte uitlating van Mazibuko is gemaak teenoor die joernalis Donwald Pressly, skrywer van die boek Owning the Future: Lindiwe Mazibuko and the Changing Face of the DA.
“Dit is duidelik dat die nuwe DA nie plek het vir nasionalisme nie, en ‘n totale verandering ondergaan. Mazibuko betreur selfs die feit dat wit kiesers Tony Leon so sterk gesteun het want dit was ‘n korttermyn wins, maar nadelig vir die DA op die langtermyn. Ek verstaan nou hoekom die DA in die parlement rasgebaseerde regstellende aksie ondersteun en nooit iets sê ter beskerming van die Afrikaner se belange nie,” sê Groenewald.
“Die Vryheidsfront Plus was nog nooit skaam om in die parlement vir die belange van die Afrikaner te veg nie en sal daarmee voortgaan,” het Groenewald gesê.
Sel: 083 627 4397