“Geen politieke party kan God en godsdiens vir hulle opeis nie. Hierdie tipe propaganda moet ten sterkste tydens hierdie verkiesing veroordeel word,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, gesê.
Ramaphosa het tydens die Gautengse bekendstelling van die ANC se verkiesingsmanifes in Atteridgeville die afgelope naweek gesê dat God en die voorvaders wil hê dat elke Suid-Afrikaner in hierdie verkiesing vir die ANC moet stem.
“Behalwe dat so 'n opmerking aanstoot aan gelowiges gee, grens die ydele gebruik van godsdiens op hierdie wyse ook aan godslastering. As die ANC hierdie tipe argumente moet gebruik om sy kiesers te oortuig, is dit ’n duidelike aanduiding van hoe diep die ANC in die moeilikheid by hulle ongeduldige ondersteuners is,” volgens Mulder.
Gelowiges weet dat God nie kant kies vir of teen spesifieke politieke partye nie. Hulle weet egter wel dat God kant kies teen korrupsie, teen selfverryking, geweld en die onderdrukking van minder bevoorregtes.
Omdat mnr. Ramaphosa tweede in bevel van die ANC is, kan hierdie opmerkings nie ligtelik afgemaak word nie. Daar heers ’n onaanvaarbare kultuur by die ANC om telkens God se naam te gebruik vir politieke gewin.
In Julie verlede jaar het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, gesê: “God is met die ANC.” In November het Gwede Mantashe, ANC se sekretaris-generaal die ANC drieparty-alliansie met die Heilige Drie-eenheid vergelyk terwyl president Zuma al in 2008 gesê het dat die ANC sal regeer totdat Jesus kom.
Hierdie verkiesing behoort te gaan oor hoe ons die ekonomiese groeikoers kan laat styg ten einde meer werksgeleenthede in Suid-Afrika vir die miljoene armes te skep asook oor hoe die verskillende groeperinge in die land vreedsaam kan saam bestaan sonder om bedreig te voel. Ons wag vir die ANC se uitsprake hieroor.
In soverre die voorvaders en godsdiens gebruik word om naïewe kiesers te intimideer dat byvoorbeeld die voorvaders weet waar hulle gaan stem, sal die VF Plus die OVK nader om teen sulke partye op te tree.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403