(Debat in parlement: Wysigingswetsontwerp op die Strafreg (forensiese prosedures))
Die Wetsontwerp op die Strafreg (forensiese prosedures) is ‘n goeie wet wat veral vroue en kinders wel kan beskerm, maar dit sou niks beteken indien dit nie toegepas word nie.
Die wet het sy oorsprong in 2009. Die ANC het destyds egter besluit dat die vingerdruk- en forensiese afdelings in die wet geskei moet word.
Die wet wat met forensiese werk in die besonder handel, is eers in 2013 voltooi en eers in 2015 het die minister die regulasie uitgevaardig om die wet van krag te maak ingevolge waarvan misdadigers verplig sou word om DNS-monsters vir ‘n databasis te verskaf.
In 2017 het dit weer verander. Nou is dit reeds 2022 en daar moet gevra word waarom dit die regering dertien jaar geneem het om dié wet weer aan te pas aangaande verpligte DNS-monsters.
In hierdie tyd het die regering veral vroue en kinders wat die slagoffers van seksuele oortredings was, in die steek gelaat.
Die belangrike vraag is ook hoe lank dit gaan duur vir die wet om werklik effektief te wees. Die parlement het gehoor van 100 000 misdadigers wat vry op straat is bloot weens hierdie gebrek aan optrede van die regering.
Daar is tans ‘n totale agterstand van DNS-monsters in sowat 200 000 sake.
Al is die wet goed, sou dit niks baat om die publiek te mislei met die beskerming wat dit sou bied indien dit in die praktyk nie toegepas word nie.
Die land het goeie wetgewing teen misdaad, maar dit beteken niks indien dit nie toegepas word nie. Daar is te veel mediaberigte oor slagoffers van seksuele misdaad wat in vrees leef omdat hul aanvallers vry rondloop. Die stelsel laat hulle in die steek.
Die administrasie oor die uitvoering van wette skep tans frustrasie. Dit stort in duie en misdadigers word bevoordeel.
Dit moet reggeruk word, en dít is die verantwoordelikheid van die regering van die dag.


