Die eerste amptelike geleentheid van president Jacob Zuma se nuwe termyn is reeds omstrede.
Nie net het staatshoofde van regoor die wêreld, maar veral van die Weste, die ANC en Zuma afgejak deur nie sy inhuldiging by te woon nie, maar die regering weier steeds om vrae te beantwoord oor wat die geselligheid die belastingbetaler gekos het, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Hy sê dit is veelseggend dat daar net hoofde van Afrika-lande en klein eilande rondom die kontinent teenwoordig was.
“Die regte wêreld het pres. Zuma en sy regering bekyk en te lig bevind. Dis tragies dat Suid-Afrika meer en meer afgesny word van die sentrum van wêreldmag en –invloed.
“Dit was opvallend dat anders as met die inhuldiging van al die presidente sedert 1994, daar hierdie keer nie ‘n enkele staatshoof of vise-president of minister van enige land uit Europa, sentraal-Europa, Noord-Amerika of die Ooste teenwoordig was nie.
“Uit Suid-Amerika was slegs Brasilië se vise-president teenwoordig. Selfs wat die Brics-lande aanbetref was daar niemand van China of Rusland nie.
“Veelseggend was dat die grootste applous gereserveer is vir Robert Mugabe van Zimbabwe, en in ‘n mindere mate vir een van die vise-presidente van Kuba,” sê dr. Mulder.
Oor die koste van die inhuldiging sê dr. Mulder daar sal druk op die regering geplaas word om hieroor antwoorde te verstrek.
“Tot nou toe was die standaard-verskoning dat die uitgawes in lyn sal wees met die voormalige minister van finansies se sogenaamde ‘soberheids-voorskrifte’.
“Vyf jaar gelede het dit minder as R80 miljoen gekos. Hierdie keer is ‘n bedrag van meer as R120 miljoen reeds genoem. Dit terwyl miljoene mense honger ly en daar selfs kos vir stakende mynwerkers aangery word wat die staat gyselaar hou en die ekonomie verlam.
“Dit is onaanvaarbaar. Ons wil weet hoeveel geld uitgegee is en hoe dit aangewend is aangesien die meeste invloedryke lande bloot hul diplomatieke personeel in Suid-Afrika afgevaardig het om die inhuldiging by te woon,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403