Die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) sleep steeds voete met die vervanging van ʼn transformator by die Frikkie-substasie in Welverdiend.
Dié substasie, wat krag aan Welverdiend en omliggende gebiede lewer, se transformator is stukkend en die departement van elektrisiteit het aangedui dat dit teen 3 Julie vervang sou wees.
Dit het nie gebeur nie en inwoners moes die naweek in koue deurbring. Die gebied is al vir tien dae sonder krag.
Die VF Plus het gedurende die naweek weer die burgemeester van Merafong, Nozuku Best, gekontak om vas te stel wat die vertraging veroorsaak. Sy het bevestig dat die munisipaliteit nog nie die transformator van die kontrakteur ontvang het nie.
Die VF Plus se lid van die Gauteng provinsie, Jaco Mulder, het reeds met die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Jacob Mamabolo, in verbinding getree om die proses te bespoedig.
Die party sal volgehoue druk op die LUR en die burgemeester plaas om die transformator spoedig te vervang.


