Die mees verdoemende oordeel oor elektrisiteit in Suid-Afrika is die onvoorspelbaarheid van beurtkrag. Toe Fase 6-beurtkrag oor die naweek aangekondig is, was dit kort na eenheid 1 van die Koeberg -kragsentrale met die netwerk gesinchroniseer is. Dit is toe as ʼn deurbraak bestempel.
Oor die naweek het daar egter eenhede by ander kragsentrales buite orde geraak, terwyl dit nodig was om “noodreserwes” aan te vul. Al wat dit beteken, is dat Eskom se dieselkragsentrales eenvoudig nie genoeg brandstof kon opberg om aan die gang te bly nie. Hierdie oopsiklus gasturbines is veronderstel om net tydens noodgevalle aangeskakel te word. Nou is dit ʼn noodgeval as dit nie aangeskakel kan word nie.
Maandag het Eskom die “goeie nuus” bekend gemaak dat beurtkrag tot fase 4 verlaag kan word, net om om Dinsdagmiddag weer fase 6 vir die res van die week gedurende die nag in werking te stel. Die rede wat Eskom aanvoer, is onvoorsiene brekasies.
Hierdie onderbrekings saai vernietiging in die land se ekonomie en ook in mense se lewens. Terwyl die meeste huishoudings en ondernemings hulself al by twee ure op ʼn slag se kragonderbrekings aangepas het, is vier ure eenvoudig te lank. Batterye en ander vorms van kragopberging hou eenvoudig nie so lank nie.
Die hittegolf wat suider Afrika tans teister, dra waarskynlik tot die onvoorspelbaarheid van kragvoorsiening by. Dit is nie net opwekkingseenhede wat minder doeltreffend is onder hoë temperature nie, dit is ook die verbruik van koelkamers, yskaste en wateraanlegte wat die hoogte inskiet.
Hoewel dit minder aandag trek, is daar al hoe meer munisipaliteite wat dit moeilik vind om opgaardamme vol te hou. In Kimberley (Sol Plaatje-munisipaliteit) en Hartswater (Phokwane-munisipaliteit) is daar woonbuurte wat reeds weke sonder lopende water moet regkom. Die stelsels is eenvoudig nie ontwerp om tot ses ure per dag stil te staan nie.
Die vraag ontstaan of Eskom elke keer werklik so verbaas kan wees as hy beurtkrag moet uitbrei. Dieselreserwes, verhoogde aanvraag en die toestand van oorwerkte opwekkingseenhede is immers nie ʼn geheim nie.
Of Eskom leuens vertel of regtig nie weet nie, die gevolge bly dieselfde. Daarom is die langtermynoplossing om Eskom as bystand te beskou; elkeen wat dit kan bekostig, moet onafhanklik van Eskom raak en bly wees as daar krag in die netwerk is.
Waar sal Suid-Afrika se hulp vandaan kom? Nie van Eskom of die minister in die presidensie van elektrisiteit nie.


