Die VF Plus het ʼn versoek aan die Tshwane-metro se departement van gemeenskapsveiligheid gerig om die tonnel wat onderdeur Bothalaan in Lyttelton loop, te sluit.
Plaaslike inwoners het die party genader met klagtes dat die tonnel ʼn gevaar inhou weens dwelmhandel, onwettige vullisstortings en haweloses wat dit as slaapplek gebruik.
Sowat 500 inwoners wat in die omgewing woon, het op 27 November ʼn versoekskrif hieroor aan die VF Plus oorhandig.
Volgens inwoners voel hulle onveilig in hul wonings en kan nie meer die tonnel gebruik nie weens die vrees dat hulle aangeval en beroof kan word.
Die VF Plus het die gesondheidsdepartement ook versoek om die gebruikte spuitnaalde en vullis in die tonnel op te ruim.
Die versoekskrif sal ook aan die metro se burgemeester, mnr. Cilliers Brink, oorhandig word.
Die veiligheid van inwoners van die Tshwane-metro is vir die VF Plus baie belangrik en sal as koalisievennoot alles in sy vermoë doen om ʼn veilige omgewing te skep om in te leef en werk.
Saam kan ons die Tshwane-metro herstel en bou.