Die minister van polisie se versoek om die weermag te ontplooi om die polisie by te staan met die bekamping van misdaad is ‘n erkenning dat die polisie nie meer misdaad in Suid-Afrika kan beheer nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald het vandag in ‘n ledeverklaring in die parlement gesê dit kom daarop neer dat misdaad buite beheer is.
“Dit is nie ongewoon om die weermag se hulp te gebruik nie, alhoewel dit nie wenslik is nie. Die VF Plus wil egter waarsku dat die SANW nie op standaard is om die polisie by te staan met polisiewerk nie.
“Soldate is nie opgelei daarvoor nie, hulle weet nie wat om te doen nie, en hulle is nie gedissiplineerd genoeg nie. Die VF Plus waarsku vandag dat indien die weermag in sekere gebiede ontplooi gaan word, daar nie een Marikana gaan wees nie, maar baie.
“Polisielede is daar om die gemeenskap te beskerm. Soldate word opgelei om mense dood te skiet. Dit is die verskil tussen die twee,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216