fbpx
Vryheidsfront Plus

Mosebenzi Zwane en die Vrede-suiwelprojek: Benoude katte maak benoude spronge

Die minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, wat vandag voor die parlementêre komitee vir minerale hulpbronne verskyn het, maak benoude spronge om sy aandeel in staatskaping en spesifiek met betrekking tot die Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat te verbloem, sê Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer.

Volgens Zwane het die VF Plus en ander opposisiepartye die Vrede-suiwelprojek wat die belastingbetaler nagenoeg R570 miljoen gekos het en onder meer ‘n Gupta-troue gefinansier het, gesteun.

Wessels sê dit is ‘n “blatante leuen”. Die VF Plus was wel in beginsel ten gunste van die ontwikkelingsprogramme van die departement wat geoormerk was om landbou-verwerking in die Vrystaat te doen.

“Die VF Plus is ten gunste van waardetoevoeging tot die landboubedryf in die Vrystaat en daarom was hierdie projekte, soos deur die voormalige LUR van landbou aan die partye voorgehou, in beginsel aanvaarbaar.

“Die Vrede-suiwelprojek is nooit in besonder aan partye voorgehou nie en beslis nie op die wyse waarop ‘n implementeringsagent (Estina Edms Bpk) met Gupta-bande gebruik is om dit te implementeer nie. Die projek het eindelik niks beteken vir die mense wat daardeur bevoordeel moes word nie.

Miljoene rande se belastinggeld is na oorsese Gupta-bankrekeninge gesyfer en Zwane is onder meer op ‘n Gupta-gefinansierde reis na Indië nadat hy as destydse LUR van landbou in die Vrystaat hierdie omstrede projek goedgekeur het.

“Hy is nou blatant oneerlik met die parlementêre komitee, want benoude katte maak benoude spronge,” sê Wessels.

Kontakbesonderhede: 082 674 6670

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.