Terwyl dienslewering in die Vrystaat 'n ongeëwenaarde laagtepunt bereik het, beplan die Vrystaatse premier, Ace Magashule, 'n diensleweringsekspo vir Vrystaatse departemente met geld wat vir dienslewering gebruik kon word, sê Wouter Wessels, VF Plus-LPW vir die Vrystaat.
Hy sê die premier se kantoor het Dinsdag in die vergadering van die provinsiale finansiële komitee aangekondig dat dit R4 miljoen as deel van die provinsiale aanwasbegroting ontvang om die ekspo te befonds.
“Inwoners van die Vrystaat gaan volgens die departement van al die distrikte in die provinsie aangery word om na uitstallings te kyk wat gaan wys watter dienste aan hul gelewer word.
“Die ekspo gaan die provinsie se diensleweringsprestasies van die afgelope nege jaar, sedert Magashule se bewind, ten toon stel. Dit is belaglik dat inwoners na Bloemfontein aangery gaan word om ‘n teentoonstelling van dienslewering te sien terwyl daar nie dienste gelewer word waar hulle woon nie.
"Die premier gaan sukkel om sy regering se suksesse vir inwoners ten toon te stel, aangesien dienslewering sedert sy bewind totaal verval het.
"Waar die R4 miljoen gebruik kon word om vir kritieke dienste aan te wend, vat die premier nou dienste van inwoners weg in 'n poging om sy bewind se beeld by dieselfde inwoners te poets met dienslewering wat nie bestaan het nie.
“Die premier se termyn sal eerder onthou word vir ongekende vlakke van korrupsie, wanbestuur, wanbesteding, agterstallige skuld, lae vlakke van dienste, gerugte van en ondersoek na staatskaping en die een krisis na die ander met betrekking tot gesondheidsorg, water en elektrisiteit in die provinsie.
"Indien ‘n mens die ANC en Magashule se bewind van die afgelope nege jaar beskou, is daar nie veel om uit te stal by sy diensleweringsekspo nie," sê Wessels.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670