Die onvermoë van die Tshwane-metro se departement van behuising om behoorlik oorsig oor gekontrakteerde watertenkwaens te hou, kos belastingbetalers miljoene wat straks grootliks vermors word.
Kontrakteurs ontvang die water vanaf die metro waarna hulle dit na informele nedersettings vervoer. Hiervoor ontvang hulle tussen R300 en R500 per uur wat die totale koste, water ingesluit, op R300 miljoen per jaar bring.
Daar is egter geen stelsel om met sekerheid te bepaal of die diens wel gelewer word soos dit moet nie. Die departement van behuising kan nie sê aan wie, wanneer en hoeveel water gelewer word nie.
Die party het ʼn beroep op die Tshwane-metro gedoen om eerder die geld te gebruik om waterinfrastruktuur en waterkrane by informele nedersettings te installeer in stede daarvan om watertenkwaens te gebruik.
Sonder ʼn betroubare moniteringstelsel soos logboeke, geverifieerde tydstate en volledige ouditspore, is die program kwesbaar vir wanadministrasie en uitbuiting.
Elke faktuur moet oor bewyse beskik van ʼn aflewering, insluitende ritstate, ontsmettingsrekords en waar van toepassing gesertifiseerde toetse oor watergehalte.
Die party doen ook ’n beroep op groter betrokkenheid van die departement van gesondheid se afdeling vir omgewingsgesondheid om te sorg dat behoorlike dienste gelewer word en belastinggeld nie vermors word nie.
Die VF Plus sal aanhou om te veg vir doeltreffende stelsels, ferm afdwinging en volledige deursigtigheid.