Inwoners van Warrenton en Warrenvale in die Noord-Kaapse munisipaliteit Magareng, gaan gebuk onder knellende watertekorte terwyl die werknemers wat onderhoudswerk moet doen, vakansie hou.
Die krane in Warrenvale en die stasie, wat water direk uit die Vaalharts-kanaal kry, het al dikwels droog geraak. Dit word gewoonlik aan onderhoudswerk aan die kanaal toegeskryf. Die afgelope week is die hele munisipale waterstelsel egter droog.
Met teenstrydige berigte oor wat die rede vir die jongste, omvattende wateronderbreking is, het die VF Plus se voorsitter in Warrenton (Gert van Heerden) by die munisipale waterwerke gaan ondersoek instel.
Dit blyk nou dat al die werknemers wat vir onderhoudswerk verantwoordelik is, met vakansie is. ‘n Enkele munisipale werktuigkundige uit 'n ander afdeling, moes noodgedwonge ingryp om die situasie te probeer beredder.
Teen laat Dinsdagoggend was herstelwerk steeds aan die gang, maar watertoevoer is verder vertraag omdat die filtreerstelsel dae lank droog was.
Hierdie gebeure is teen die agtergrond dat Magareng in Julie Eskom ter elfder ure betaal het om te verhinder dat krag onderbreek word. Dit nadat Eskom op 7 Julie aangekondig het dat geen ooreenkoms met Magareng bereik kon word oor betaling nie.
Gemeenskapsgroepe op sosiale media plaas talle boodskappe waar inwoners op die ontbinding van die munisipaliteit aandring en die VF Plus sal as voorvegter optree vir inwoners wat moet ly weens die onbevoegdheid van die munisipaliteit.
Navrae: 082 573 0544