Waarskuwings van die VF Plus aan die ANC/EFF-beheerde Ekurhuleni-metro oor vervalle infrastruktuur het niks opgelewer nie en dit het nou veroorsaak dat inwoners van Benoni ʼn kraglose jaar binnegegaan het ten spyte van die tydelike opskorting van beurtkrag.
Die gebiede Norton Home Estates en Brentwoodpark se kragprobleme is onlangs opgelos, maar dit was van korte duur na die kragtoevoer weer onderbreek is. Die gebiede het daarna vir nog drie tot vyf dae sonder krag gesit.
Alhoewel die swaar reën van die afgelope ruk bydra tot die kragprobleme, is die groot oorsaak vervalle kraginfrastruktuur.
Dit kan net voor die deur van die ANC/EFF-beheerde metro gelê word wat ondanks waarskuwings van die VF Plus geen poging aanwend om die infrastruktuur te vervang of op te gradeer nie.
Intussen word inwoners wat onder meer afhanklik is van suurstofmasjiene, se lewe in gevaar gestel en moet bederfbare kos keer op keer weggegooi en vervang word teen die huidige hemelhoë pryse.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die metro te plaas om kraginfrastruktuur te prioritiseer en die dienste aan inwoners te lewer waarvoor hulle ten duurste betaal.