fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC se gebrekkige beplanning oorsaak van oorvol skole in Gauteng

Die Gautengse onderwysdepartement se gebrekkige beplanning om genoeg skole in die provinsie te bou, het weereens geboemerang. Laerskole in Kemptonpark word nou gedwing om graad 8-leerders in tydelike klaskamers te huisves.

Die VF Plus kan hierdie ondeurdagte besluit nie goedkeur nie.

Die gebrek aan voldoende skole vir die groeiende bevolking in Gauteng bly ongelukkig ʼn jaarlikse tema en gaan onder die ANC net nog meer van ʼn kopsorg word.

Die VF Plus het verskeie kere tydens die departement van onderwys se jaarlikse beplanningsvoorleggings aan die Gautengse wetgewer se onderwyskomitee gevra waarom daar nie genoeg skole gebou word nie. Die party wou ook weet wat die probleem is omdat die departement blykbaar oor genoeg fondse beskik vir die bou van skole.

Die kern van die probleem is eenvoudig: Die onderwysdepartement pak bloot die skuld op die departement van infrastruktuur.

Dit is alombekend dat dié departement nie sy projekte van die grond af kry of afhandel nie weens onder meer die aanstelling van kontrakteurs wat nie hul kontraktuele verpligtinge kan nakom nie.

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) word voor meriete gestel en dit maak in baie gevalle die deur oop vir opportuniste wat aangestel word op grond van hul verbintenis met die ANC of amptenare in die departement.

Daarby is die Gautengse onderwysdepartement self nie onskuldig as dit by wanbestuur kom nie, soos blyk uit verskeie skandale soos die onnodige skoonmaak van skole tydens die Covid-19-pandemie in 2020 waartydens R430 miljoen vermors en uitbetaal is aan talle onbevoegde diensverskaffers en rakmaatskappye.

Die departement van onderwys het reeds aangedui dat hyself verantwoordelik wil wees vir die bou van skole. Die VF Plus steun die gedagte in beginsel, maar is nie oortuig dat dit die probleme gaan uitskakel nie en skole vinniger gebou sal word nie.

Die kern van die probleem is steeds ʼn onbeholpe ANC-regering in Gauteng.

Die enigste volhoubare oplossing sal kom wanneer die VF Plus as deel van ʼn koalisieregering in 2024 die departement van onderwys se bestuur oorneem.

Die party sal sorg dat moedertaalonderwys gedy en alle Afrikaanse skole beskerm word wat steeds deur die departement van onderwys geteiken word.

Daar sal gesorg word dat alle leerlinge toegang tot ordentlike skole kry in die taal van hul keuse.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.