Ten spyte van talle waarskuwings van die VF Plus aan Mpumalanga se departement vir gemeenskapsveiligheid, is ʼn Kanadese pa en sy twee tienerseuns in Mbombela (Nelspruit) onlangs ontvoer en beroof.
Die VF Plus het verlede jaar verskeie keer sy kommer oor die veiligheid van toeriste op die R104-pad in die provinsiale wetgewer uitgespreek en gewaarsku dat veiligheid in die gebied opgeskerp moet word, veral oor die feesseisoen.
Die waarskuwings het duidelik op dowe ore geval.
Dié pad, wat vanaf die N4 deur Nelspruit loop, is die hoofroete na Mosambiek en die Krugerwildtuin.
Vier verdagtes in ʼn Ford Ranger met blou ligte wat hul voorgedoen het as polisielede, het die toeriste se voertuig naby die landdroshof in Nelspruit voorgekeer, die mense ontvoer en gedwing om groot bedrae geld uit hul bankrekeninge te onttrek.
Die verdagtes is steeds op vrye voete.
Luidens ʼn verklaring van die departement van gemeenskapsveiligheid is dit die modus operandi van ʼn sindikaat wat in die provinsie funksioneer.
Mpumalanga is ʼn gewilde toerismebestemming en die toerismebedryf lewer ʼn groot bydra tot die provinsie se ekonomie. Voorvalle soos hierdie knou die bedryf en sal veroorsaak dat toeriste die provinsie vermy.
Motoriste word sterk aangeraai om veral snags nie af te trek vir ongemerkte voertuie nie en eerder na die naaste polisiekantoor te ry.