fbpx
Vryheidsfront Plus

VW verskaf nog bewyse dat SEB nie werk nie

Volkswagen SA se waarskuwing dat ‘n tekort aan swart verskaffers in die bedryf rampspoedige gevolge kan hê, is die jongste bewys dat Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) nie werk nie en dat dit ‘n peperduur mislukking is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts sê die stel van SEB-kwotas is besig om die effektiewe funksionering van Suid-Afrika se ekonomie al hoe meer te ondermyn.

Hy sê Volkswagen SA erken nou self dat hulle nie genoeg swart verskaffers kan kry om te voldoen aan die strenger SEB-vereistes nie. Dit beteken dat Volkswagen sy SEB-status kan verloor en dan op velerlei wyses deur die staat gestraf kan word.

Dit kan selfs lei tot die onttrekking van Volkswagen uit die Suid-Afrikaanse mark en grootskaalse werksverliese en skade aan die land se ekonomie.

Luidens ‘n berig in Netwerk24 het mnr. Thomas Schäfer, voorsitter en besturende direkteur van Volkswagen SA, gewaarsku dat Suid-Afrika se breër voertuigvervaardigingsbedryf – wat in 2015 7% tot die bruto binnelandse produk bygedra het – tot niet sal gaan indien regeringsprogramme soos die produksie-en-ontwikkelingsplan vir die voertuigbedryf (APDP) aan SEB-vereistes gekoppel sal word.

Adv. Alberts sê dit is nou tyd dat die ANC-regering ernstig besin oor hierdie tipe inmenging in die ekonomie.

“Dis duidelik dat dit nie werk nie, want net ‘n klein handvol onverdienstelike en polities-gekonnekteerde persone word verryk deur die stelsel. Meeste armes het nog nooit hierby baat gevind nie.

“Indien SEB nie bestaan het nie, maar daar eerder gefokus is op opleiding en vaardigheidsontwikkeling van skoolvlak af, sou die ekonomie alreeds baie beter gedoen het.

“Om besigheidsgeleenthede op ‘n kunsmatige wyse vir ‘n paar gekonnekteerde en onkundige mense in die algemeen te skep, word die armes in werklikheid verraai,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.