Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onttrekking aan Internasionale Strafhof: ANC wys wêreld hy het geen morele waardes nie

Die ANC-regering het met sy besluit om aan die Internasionale Strafhof te onttrek, amptelik aan die wêreld gewys dat hy geen morele bodem het nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se woordvoerder oor menseregte.

Luidens mediaberigte het me. Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, reeds ‘n dokument onderteken wat dié proses van onttrekking in werking stel.

Adv. Alberts sê die stap is duidelik geneem na onenigheid verlede jaar oor Suid-Afrika se beskerming van Omar al-Basjir wat van volksmoord, oorlogsmisdade en misdaad teen die mensdom beskuldig word en waarvoor die strafhof in 2009 en 2010 lasbriewe uitgereik het.

Hy sê die ANC is sodoende vinnig besig om sy ware kleure te wys as ‘n organisasie en party wat nooit werklik in menseregte geglo het nie, maar dit bloot gebruik het om die morele hoë grond te betree in sy stryd om mag oor te neem in Suid-Afrika.

“Noudat die party 21 jaar aan bewind is, word dit al hoe moeiliker om sy ware aard te verbloem, naamlik dat hy ‘n magsbehepte en selfsugtige organisasie en politieke party is wat net vir sy binnekring sorg ten koste van die meerderheid mense in die land.

“Die ANC openbaar selfs ‘n erger roekeloosheid in sy buitelandse beleid deur die beskerming van ‘n massa-moordenaar soos al-Basjir.

“In ‘n tyd waar Suid-Afrika die vertroue van die buiteland baie nodig het om beleggings te lok, het die ANC pas ‘n dolk in die hart van verantwoordelike internasionale burgerskap gedryf. Daaroor bestaan geen twyfel nie.

“Indien Suid-Afrika se mense enige kans op oorlewing wil hê, moet die ANC so spoedig moontlik uit die kussings gelig word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.