Die onlangse inbraak by die SA Vloot se militêre basis in die Wes-Kaap, waar verskeie wapens en ammunisie gesteel is, en die tronkstraf van 18 jaar aan die polisielid, kol. Christiaan Prinsloo, wat 2 400 vuurwapens uit polisiebewaring in Gauteng gesteel, en wat aan bendes verkoop is, plaas vuurwapengebruik opnuut in die kollig.
“Pres. Jacob Zuma en die minister van polisie, mnr. Nathi Nhleko, is altyd vinnig om te sê vuurwapens moet verminder word, aangesien dit die grootste oorsaak van geweldsmisdaad is. Die werklikheid is dat meer mense die afgelope vyf jaar weens steekwonde as skietwonde gesterf het,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van polisie vir die Vryheidsfront Plus.
Sedert 2010 tot einde 2015 het 38 725 mense weens steekwonde en 25 869 mense weens skietwonde gesterf. Dit blyk uit ‘n antwoord van die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, in die parlement op ’n vraag van dr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus. Die statistiek is gebaseer op die aantal lyke in staatslykhuise volgens die Forensiese Patologiese Dienste van die departement gesondheid.
“Hierdie statistiek bewys Zuma en Nhleko verkeerd. Indien ’n vergelyking met die moordsyfer van die polisie getref word, en aanvaar word dat alle skietwonde ook moord was, wat nie so is nie, was skietwonde die afgelope drie finansiële jare verantwoordelik vir 35% (34,9; 35,1; 35,1) van die moordsyfer. Steekwonde in dieselfde tydperk was egter verantwoordelik vir 50,5% (59,8; 45,6; 46,2) van die moordsyfer. Hierdie statistiek is weereens ’n bewys dat wettige vuurwapeneienaars onbillik en onnodig geteiken word asof die besit van vuurwapens die groot oorsaak van geweldsmisdaad in Suid-Afrika is,” het Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403