Na ‘n uitgereikte stryd en verskeie klagtes het die VF Plus eindelik daarin geslaan om die Menseregtekommissie (MRK) sover te kry om pres. Jacob Zuma tot verantwoording te roep weens moontlike haatspraak teen wittes, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.
Van die klagtes gaan onder meer oor sy uitlatings in Januarie verlede jaar dat die land se probleme begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck.
Nadat pres. Zuma ‘n sperdatum van die MRK verlede jaar verontagsaam het en die MRK niks daaraan gedoen het nie, het die VF Plus die kommissie ingevolge die Paia-Wet gedwing om inligting te verskaf oor waarom daar versuim word om teen die president op te tree. Die ondersoek is toe weer geaktiveer.
Die MRK het die sperdatum eindelik tot 31 Julie vanjaar geskuif, en het vandag bevestig dat pres. Zuma nou wel op die klagtes geantwoord het. Die kommissie wou egter nie die inhoud van die antwoord bekend maak nie, en het gesê dit sal later gedoen word.
Adv. Alberts sê na die lang stryd met die MRK, wat die indruk geskep het dat hulle nie bereid is om teen pres. Zuma op te tree nie, is dit jammer dat kommissie nou, ‘n dag voor die verkiesing die president oënskynlik verder beskerm deur nie die inhoud van sy antwoord bekend te maak nie.
“Die VF Plus het aangedring op die antwoord waarop ons geregtig is, maar die MRK volhard met sy antwoord dat dit eers later gegee sal word.
“Dit is kommerwekkend dat die MRK toenemend die indruk skep dat hy nie bereid is om soos die Openbare Beskermer (OB) sonder vrees of vooroordeel sy mandaat as ‘n Hoofstuk 9-instelling met grondwetlike pligte uitvoer nie.
“Die VF Plus se siening is dat alle burgers wat oortree, oor dieselfde kam geskeer word. Tog is dit duidelik nie die geval nie.
“Mense soos Sunette Bridges en meer onlangs Penny Sparrow is vinnig tot verantwoording geroep oor rasse-uitlatings. Buiten die optrede teen pres. Zuma nou, is daar steeds niks gedoen aan grondige klagtes teen onder meer EFF-ondersteuners wat mense openlik aanhits om wittes te vermoor nie.
“Die VF Plus sal onverpoosd voortgaan om druk op die MRK plaas om sy werk behoorlik te doen en om streng teen alle oortreders op te tree, ongeag hul velkleur,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403