fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse LUR het nie antwoorde oor mislukte 139-intervensies nie

Die VF Plus wou Woensdag tydens die Plaaslike Regeringsweek in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) by Sully Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), weet waarom die stand van Vrystaatse munisipaliteite onder Artikel 139-intervensies geensins verbeter nie.

Nxangisa kon nie oortuigend antwoord en verduidelik waarom dienslewering en die finansiële toestand van hierdie munisipaliteite, waar provinsiale intervensies plaasvind of tot onlangs plaasgevind het, nie verbeter nie.

In Mafube (Frankfort, Cornelia, Villiers) is daar tydens die ANC-beheerde provinsiale regering se intervensie byvoorbeeld beslag gelê op bates van die munisipaliteit en die munisipaliteit kan dit nie bekostig om inwoners se rekeninge te druk nie. Dié munisipaliteit se invorderingskoers is tans minder as 30%.

In Masilonyana (Theunissen, Brandfort en Winburg), wat onder Artikel 139-administrasie was, is daar geen sigbare verbeteringe nie. Tydens die intervensie was oorsig deur die provinsiale regering so swak dat geld wat aan Eskom oorbetaal moes word, in ‘n amptenaar se bankrekening betaal is. Dié munisipaliteit kan ook slegs 30% van sy debiteure invorder.

In Maluti-A-Phofung (Harrismith, Qwaqwa) het die munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte hulself salarisverhoging gegee sonder behoorlike goedkeuring en terwyl die munisipaliteit dit nie kan bekostig nie. Dit het ook tydens Artikel 139-intervensie plaasgevind.

Stappe is wel teen die amptenare geneem, maar die VF Plus wou by die LUR weet hoe dit moontlik is dat dienste gedurende Artikel 139-intervensies nie verbeter nie en in baie omstandighede meer probleme in die munisipaliteite veroorsaak.

Die LUR het aangevoer dat onstabiliteit in die rade intervensies bemoeilik. Hy laat egter na om te sê dat dit die plig van die provinsiale regering is om sukkelende munisipaliteite te ondersteun in so ‘n mate dat hulle hul statutêre verpligtinge nakom en dienste lewer.

Die ANC kan nie regeer nie. Suid-Afrika se sukkelende munisipaliteite, waarvan dié in die Vrystaat van die swakste is, het inwoners in die steek gelaat.

Regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en korrupsie onder die ANC-regering het munisipaliteite voor ‘n kruispad gebring.

Kundige amptenare is nou nodig om ons munisipaliteite te red. Vrystaatse inwoners verdien munisipaliteite wat finansieel funksioneer en dienste lewer.

Navrae: 076 629 6219

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.