Die VF Plus in Gauteng is versigtig optimisties oor die waarskuwing van die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sithole, dat polisiebeamptes wat hulle doelbewus skuldig maak aan oortredings teenoor die publiek, vervolg sal word.
Die polisie word nou gedwing om aandag aan doelbewuste misdade van polisielede te gee na die dood van Nathaniel Julies, ‘n Downsindroom-tiener van Eldoradopark wat onlangs onskuldig doodgeskiet is.
Die polisie moet konsekwent optree en nie elke keer wanneer ‘n saak openbare aandag geniet, nuwe maatreëls instel nie.
Die VF Plus waarsku lank reeds dat polisiebeamptes nie behoorlike opleiding ontvang nie. Polisiebeamptes het in baie gevalle nie die nodige toerusting om hul werk na behore uit te voer nie.
Die VF Plus voer gereeld gesprekke met die Gautengse provinsiale kommissaris, Elias Mawela, oor polisie-aangeleenthede waar growwe nalatigheid betrokke was.
Die party in Gauteng sal voortgesette druk op die polisie uitoefen om te sorg dat beamptes hul pligte na behore uitvoer.
Navrae: 066 010 1066