Dit het onder die VF Plus se aandag gekom dat klinieke in die Vrystaat ‘n ernstige tekort aan kroniese medisyne ervaar. Die VF Plus is bewus van ‘n voorval waar kroniese medisyne nie beskikbaar was vir ‘n pensioenaris nie en hy twee weke daarvoor moes wag.
Kroniese medikasie moet getrou geneem word en kan nie vir twee weke onderbreek word soos in hierdie geval nie. Dit kan lewensgevaarlik wees.
Die VF Plus veroordeel die swak administrasie en wanbestuur van klinieke, omdat kwesbare lede van die gemeenskap se lewe in gevaar gestel word. Die VF Plus het skriftelik aan die Vrystaatse LUR vir gesondheid, Montseng Tsiu, gevra dat hierdie voorval ondersoek en so gou as moontlik reggestel word.
Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir gesondheid, sal dit verder onder die minister van gesondheid se aandag bring om te vra dat daar nasionaal ondersoek ingestel sal word na die rede vir die tekort aan medisyne en dat die betrokke amptenare verantwoordelik gehou sal word.
Die VF Plus sal aanhou om terug te slaan teen swak gehalte gesondheidsorg en eis dat behoorlike medikasie en voldoende gesondheidsorg te alle tye beskikbaar is.
Kontaknommer: 084 206 3375