fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse gesondheidsdepartement in totale verval

Jan van Niekerk, leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, het gesê dat die ANC in die Vrystaat en veral premier Ace Magashule, volle verantwoordelikheid moet aanvaar vir die absolute chaos wat in die provinsie heers en veral vir die totale ineenstoring van die departement van Gesondheid.

Van Niekerk sê dat die aanstelling van Benny Malakoane as LUR vir Gesondheid, ‘n groot fout was wat bygedra het tot die algehele verval van die departement. Die VF Plus eis dat hy en die hoof van die departement onmiddellik ontslaan word en met iemand vervang word wat oor die vermoë en wil beskik om die departement reg te ruk.

Uiters bekwame Suid-Afrikaanse dokters het die land en Vrystaat in groot getalle verlaat omdat hulle nie langer bereid was om onder sulke haglike omstandighede in hospitale te werk nie. Magashule se Kubaanse dokters gaan beslis nie die probleme by hospitale oplos nie, omdat hulle slegs in klinieke aangewend kan word. Na raming is meer as R100 miljoen dadelik nodig om die gesondheidsdiens in die Vrystaat weer op ‘n aanvaarbare vlak te kry. Die ANC in die Vrystaat stel die inwoners van die provinsie se lewens in gevaar deur hulle minagtende houding.

Van Niekerk sê dat die ANC in die Vrystaat ‘n nuwe hospitaal op Trompsburg gebou het wat reeds voltooi is, maar nog nie in gebruik is nie. Die ANC-regering het nie genoeg personeel, toerusting en mediese voorrade vir die bestaande hospitale nie, maar hulle bou nuwes. Hierdie bou van nuwe hospitale wat nie in gebruik geneem word nie te midde van die enorme krisis in die gesondheidsdepartement nie, kom neer op vermorsing van belastingbetalers se swaarverdiende geld.

Die VF Plus eis dat maatreëls in plek gestel word wat ‘n blywende oplossing vir die gesondheidsprobleem in die Vrystaat bied. Die ANC is dit aan al die inwoners van die provinsie verskuldig. Van Niekerk skryf die probleem direk daaraan toe dat die regering behep is met regstellende aksie en SEB in plaas van dienslewering.

(Meegaande is foto’s wat op die terrein van die Nasionale Hospitaal te Kolbelaan in Bloemfontein geneem is.)

 

Jan van Niekerk

083 743 2042

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.