Die VF Plus verwelkom die ondersoek wat die minister van openbare werke na Eskom se probleme wil laat doen , maar dring daarop aan dat dit deur ‘n onafhanklike en eksterne party gedoen word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.
Adv. Alberts sê dit bly onverstaanbaar dat die vorige uitvoerende hoof van Eskom, Brian Dames, ‘n goue handdruk van meer as R22 miljoen ontvang het vir sy ‘goeie werk’ terwyl dit lank reeds bekend is dat Eskom terminale probleme het.
Hy sê die VF Plus het lank reeds die Openbare Beskermer (OB) versoek om ondersoek in te stel na Eskom se onvermoë om behoorlik te funksioneer.
“Intussen kry die VF Plus gereeld inligting van voormalige en huidige werknemers van dié kragvoorsiener wat daarop dui dat onderhoud jare lank agterweë gelaat is of gebrekkig gedoen is, en dat hy inderdaad op die rand van ineenstorting is.
“Hierdie erkenning deur die regering dat daar ‘n wesenlike krisis is, is werklik tot die elfde uur uitgestel, maar dit is nogtans die regte stap om te neem.
“Daar moet nou net werklik agter die kap van die byl oor die probleme gekom word, en al hoe dit reggekry gaan word, is om werklik ‘n onafhanklike party aan te stel om die ondersoek te doen.
“Indien dit nie gebeur nie, sal die VF Plus onverwyld die Openbare Beskermer vra om in te gryp aangesien dit van kardinale belang vir Suid-Afrika en sy inwoners is dat Eskom van ondergang gered word,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403