Die Vrystaatse regering staan te veel beurse toe aan studente wie se kwalifikasies nie tot voordeel van die Vrystaat aangewend kan word nie.
Die feit dat die departement van die premier tydens sy verskyning voor die Vrystaatse Wetgewer se Openbare Rekeningekomitee erken het dat finansiële tekorte studiebeurse kniehalter, wys die regering kan nie beskostig om aan te hou om beurse bloot toe staan nie.
Tans finansier die departement van die premier 10 000 studente om plaaslik te studeer en 1 200 studente om internasionaal te studeer wat belastingbetalers onderskeidelik R60 000 en R128 000 per student per jaar kos.
Die feit dat daar ten spyte van ‘n bykomende R63 miljoen in die aansuiweringsbegroting, ‘n tekort van R140 miljoen vir studiebeurse in die provinsie is, wys die regering moet meer konserwatief studiebeurse toestaan en dit beter beplan en bestuur.
Baie studente se beurse is ontoereikend om ‘n jaar se studie te voltooi en word sodanige student gederegistreer. Daar moet eerder aan minder studente groter en voldoende beurse toegeken word.
Die VF Plus ag internasionale beurse wat deur die Vrystaatse regering toegeken word, as ‘n verkwisting aangesien dit geen waarde vir geld vir die provinsie beteken nie. Studente wat buitelandse beurse kry, verteenwoordig ‘n tiende van die gesamentlik beursstudente, maar meer as die helfte van die fondse word aan hulle bestee.
Mediese studente wat in China gegradueer het, kan intussen nie in Suid-Afrika praktiseer nie, aangesien die Gesondheidspraktisynsraad van Suid-Afrika nie die Chinese kurrikulum erken nie. Die studente moet nou in Rusland studeer, wat belastingbetalers nog geld uit die sak jaag.
Die VF Plus is ook besorg oor die feit dat daar nie behoeftebepalings aan skaars vaardighede in die provinsie gedoen word nie en gegradueerde studente moontlik ook nie tot voordeel van die provinsie gebruik word nie.
Daar bestaan geen ooreenkoms wat studente dwing om vir ‘n vasgestelde periode hulle vaardighede tot voordeel van die Vrystaat aan te wend nie. Die Vrystaat kan dit nie bekostig om beurse te finansier wat niks vir die provinsie beteken nie.
Die VF Plus sal die Vrystaatse premier skriftelik versoek om eers behoeftebepalings vir skaars vaardighede te doen voordat beurse toegestaan word en voorstel dat studente ooreenkomste met die provinsie teken om hulle vaardighede in die provinsie te hou vir ‘n bepaalde tydperk.
Dan sal die Vrystaat baat by die studiebeurse wat vir die provinsie geallokeer word.
Kontaknommer: 082 490 6663