fbpx
Vryheidsfront Plus

Welkom: ANC het beheer oor munisipaliteit verloor

Die beskadiging van munisipale eiendom by die kantore van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit in Welkom vandag dien as bewys dat die ANC beheer oor die munisipaliteit verloor het. Werkers van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) betoog weens die feit dat salarisaftrekkings soos medies reeds vir twee maande nie oorbetaal is nie.

Die VF Plus sal strafregtelike klagte wat verband hou met bedrog, teen die munisipale bestuurder van Mathjabeng aanhangig maak, aangesien hy verantwoordelik is vir onder meer die finansiële bestuur van die munisipaliteit.

Hoewel munisipale werkers se gewelddadige optrede vandag blatante vandalisme is, wys dit tot watter mate die ANC beheer oor Matjhabeng verloor het. (Foto’s onderaan verklaring)

Matjhabeng is nie die enigste munisipaliteit waar derdeparty-aftrekkings nie oorbetaal word nie. Die VF Plus het reeds klagtes in die verband by die Openbare Beskermer (OB) aanhangig gemaak.

Dit wil voorkom asof die OB die munisipaliteite probeer beskerm het, aangesien die aangeleentheid na die nasionale departement van samewerkende regering verwys is. Die departement het dit op sy beurt na die provinsiale regering verwys.

Die Vrystaatse departementshoof van samewerkende regering en tradisionele sake, Mokete Duma, se antwoord dat die situasie van derdeparty-aftrekkings in Vrystaatse munisipaliteite onder beheer is, word met vandag se betoging in Welkom van die waarheid ontbloot.

Die VF Plus het intussen reeds in die parlement ‘n vraag aan die minister van samewerkende regering, Zweli Mkhize, gerig om vas te stel of hy bewus is van die probleem en watter stappe sy departement beoog om te verhinder dat die probleem voortduur.

Vandalisme en die beskadiging van munisipale eiendom kan nooit regverdig word nie, maar die ANC het nogtans ‘n groot aandeel in die situasie en die gepaardgaande beskadiging van munisipale eiendom.

Die VF Plus sal aanhou om terug te slaan teen die ANC se roekelose bestuur van die munisipaliteit se finansies in belang van alle inwoners van Matjhabeng.

Kontaknommer: 082 886 9945

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.